News

Video: Kritiek oor laerskoolseun se aanval op meisie

Hoewel sommige mense uitgesproke geraak het en die raskaart op die tafel gegooi is, het meeste Facebook-gebruikers kommentaar gelewer oor die feit dat dit ‘n seun is wat handgemeen raak teenoor ‘n dogter

VEREENIGING. – Talle is warm onder die kraag sedert ‘n video van ‘n bakleiery tussen twee laerskoolleerlinge op Facebook die rondte begin doen het. Die video is reeds meer as 12 000 keer gekyk.

In die video wat by ‘n Vereenigingse laerskool geneem is, kan gesien word hoe ‘n seun ‘n dogter skop en slaan. Dit nogal in Augustus wat juis bewusmakingmaand is oor geweld teen vroue en kinders.
In die beeldmateriaal kan ook gesien word hoe die dogter met haar een hand probeer keer. Verskeie ander leerlinge spring net opgewonde op en af oor die bakleiery. Die rede vir die seun se woede en aanval is in hierdie stadium nie bekend nie.
Hoewel sommige mense uitgesproke geraak het oor die video en die raskaart op die tafel gegooi is, het meeste Facebook-gebruikers kommentaar gelewer oor die feit dat dit ‘n seun is wat handgemeen raak teenoor ‘n dogter.
Sommige is ook van mening dat dit ‘n bakleiery tussen kinders is wat kort voor lank vergete sal wees en hulle weer saam sal speel. Vaalweekblad kon nie voor druktyd vasstel of enige leerling gestraf is nie. Die skool het by navraag gesê hulle mag nie kommentaar oor die voorval lewer nie en dat kommentaar van die Gautengse Onderwysdepartement aangevra moet word. Geen terugvoer is tot dusver van die Onderwysdepartement ontvang nie.

Kyk na die geredigeerde video by die skakel hier onder. Die betrokke kinders se identiteit moet volgens persreëls weerhou word.

Related Articles

Back to top button