Voormalige hoof van kleuterskool sterf na botsing teen bakkie

‘n Ongeluk by die kruising van Edison- en Andries Potgieter Boulevard het Woensdag 14 Februarie, op Valentynsdag, die lewe van ‘n geliefde voormalige hoof van Kosmos-kleuterskool geëis

 
Jannie du Plessis

VANDERBIJLPARK. – ‘n Ongeluk by die kruising van Edison- en Andries Potgieter Boulevard het Woensdag 14 Februarie, op Valentynsdag, die lewe van ‘n geliefde voormalige hoof van Kosmos-kleuterskool geëis.

Die ongeluk het omstreeks 06:00 voor die Isak Steyl Stadion plaasgevind. Mev. Anita van Deventer (69), was vasgevang in haar motor en is deur ER24 se paramediese personeel en plaaslike nooddienste met spesiale toerusting uit haar voertuig bevry. Hartmasering is deur paramediese personeel op die toneel toegepas en Anita is na die Emfuleni Mediclinic geneem, maar sy het sowat ‘n uur later die stryd verloor.

CCTV-beeldmateriaal van die ongeluk wat deur Vaalweekblad bekom is, bevestig dat die bestuurder van die bakkie, wat aanvanklik erg op sosiale media deurgeloop het en beskuldig is, niks kon doen om die botsing te verhoed nie.

Uit die video beeldmateriaal blyk dit duidelik dat verskeie motoriste, asook Anita, nie gestop het by die stopteken waar hulle moes nie. Daar was geen duidelike padtekens op die pad sigbaar nie, die strepe is egter later die middag by die stopteken aangebring.

‘n Bydraende faktor was ook dat daar ‘n groter toeloop van verkeer was weens die padwerkerke aan die Barragepad en dat meer mense dié ompad moes gebruik.

Op die video en ander beeldmateriaal kan ook gesien word hoe twee polisievoertuie verby die ongelukstoneel ry sonder om hulp aan te bied. Net na die ongeluk het ‘n verkeersbeampte wat in sy privaatvoertuig gery het, en wat ‘n ent agter Anita by die stopstraat was, wel by die toneel gestop en gehelp.

Anita was jare lank hoof van die destydse Kosmos-kleuterskool. Volgens Marinda Fowler, Anita se dogter, was haar ma ‘n geliefde, vriendelike mens wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Haar ma was juis die oggend op pad na haar toe om haar met haar kinders by te staan.

Anita se begrafnis was Maandag 19 Februarie vanuit die Drie-Riviere Oos-Gemeente. Sy laat haar man Wessel, twee dogters, Marinda Immelman en Petro Fowler, en drie kleinkinders agter.

*Die video is beskikbaar op www.vaalweekblad.com se webblad.

Die wrak van die voertuig waarin mev. Anita van Deventer , voormalige hoof van die destydse Kosmos-kleuterskool, Woensdag noodlottig beseer is.

 

 

Exit mobile version