News

Swart-egpaar het moontlik nog geleef by Spider Valley

VEREENIGING. - Die verdagte in die opspraakwekkende moordsaak van die Swart egpaar van Risiville, het op Donderdag 21 September  weer in die streekhof in die stad op twee aanklagte van moord en motordiefstal verskyn.

Darren Maree (40) wat ten tyde van die moord ‘n woonstel by die egpaar, Willem (61) en Isa Swart (65) van Henrystraat in Risiville gehuur het, het weer vlugtig in die hof verskyn nadat sy prokureur by sy vorige verskyning op 15 September met verlof was. Francois de Kock van die regshulpraad het aangedui dat hy Maree voortaan gaan verteenwoordig. Die erg verkoolde lyke van die Swart-egpaar is op 13 Julie deur ‘n verbyganger by Spider Valley ontdek. Maree het tereg gestaan op vyf aanklagte, waarvan twee teruggetrek is. Die twee aanklagte van lykskending is teruggetrek nadat forensiese toetse bepaal het dat die egpaar nog geleef het toe hulle aan die brand gesteek is. Intussen het die polisie se watervleuel voor verlede week na die moordwapen, wat vermoedelik ‘n gereedskapstuk is, in die Kliprivier by Drie-Riviere gesoek. Die strome het egter die soektog benadeel en die wapen is nog nie gevind nie. Maree het Donderdag met boeie aan die voete en kop onderstebo ingestap. Die saak is uitgestel en hy het weer kop onderstebo uitgestap. Landdros Retha Willemse hanteer die saak, met Leani Hattingh as staatsaanklaer. Maree verskyn weer op 3 Oktober in die streekhof en sal dan waarskynlik pleit.

Wyle Isa en Willem Swart.

Related Articles

Back to top button