BlogsOpinions

“Ek weet wat jy nodig het en sal voorsien in jou behoeftes”

Ek ry ekstra versigtig van die huis af en trek vir die tweede keer die week by die Total garage in. Ek stop aan die kant waar mens wiele pomp. Die petroljoggie kom aangestap en fluit saggies tussen sy twee goue voortande deur. “Ons moes Maandag al die band ‘gefix’ het mevrou,” sê hy.

Rosa Duvenhage

Ek ry ekstra versigtig van die huis af en trek vir die tweede keer die week by die Total garage in. Ek stop aan die kant waar mens wiele pomp. Die petroljoggie kom aangestap en fluit saggies tussen sy twee goue voortande deur. “Ons moes Maandag al die band ‘gefix’ het mevrou,” sê hy.

Ek weet hy praat die waarheid, die band bekommer my al die hele week, maar tyd was net nie aan my kant nie. Versigtig bevoel hy die band terwyl hy sommer die ruit-skoonmaker se water vat om die band nat te spat. “Ek het jou, jou vuilgoed!” sê hy opgewonde.

“Kom kyk mevrou, hier sit die ‘culprit’ en bubbles blaas nes ‘n guppie!” Ek loer oor sy skouer en sien ‘n paar klein borreltjies waar die lug ontsnap. Kan jy hom regmaak vra ek? “Mevrou, sê hy terwyl hy vir my groot oë trek en sy twee hande in die lug steek. “Sien jy hierdie twee hande, hulle is gemaak vir bande. Ek is die beste innie Kaap, ekke ‘fix’ bande in my slaap!”

Ek glimlag vir sy voortvarendheid en staan vir ‘n paar minute en kyk hoe hy ‘n yslike spyker uit die wiel trek, iets soos ‘n dik naald en gare deur die gaatjie druk en die een rympie na die ander oor sy ‘fantastiese’ kwaliteite aframmel. Letterlik binne minute is ek terug op die pad, met ‘n spykerlose, styf gepompte wiel. Dit voel soos ‘n berg van my skouers af en ek is sommer vies vir myself omdat ek die hele week lank bekommerd was oor iets wat binne minute uitgesorteer kon word.

Net soos die vriendelike man by die vulstasie tot my redding gekom het, so kom God daagliks tot ons redding. Die lewenspad is vol spykers en gereeld kom ons op ‘n plek waar ons wiele pap is. Dis dan ook net op een plek waar ons ‘gefix’ kan word en dit op God se skoot met ons kop teen Sy bors. Luister wat sê God vir jou vandag:

Ek is bekend met al jou weë (Ps. 139:3). Ek weet van jou sit en jou opstaan (Ps. 139:2). Jy is nie ‘n fout nie, ek het jou beplan (Ps. 139:15&16). Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne! (Jes. 43:1). Dis my begeerte om jou met my liefde te oorweldig (1 Joh. 3:1). Ek is die volmaakte Vader (Matt 5:48). Ek weet wat jy nodig het en sal voorsien in jou behoeftes (Matt 6:31). Jy is my waardevolste besitting (Eks 19:5). Ek het jou lief met ‘n ewige liefde (Jer. 31:3). My vraag is . . . Wil jy My kind wees? (Johannes1:12-13)
Ek wag vir jou! (Luk. 15:11-32).

Here,
Somtyds voel dit of daar meer spykers as gelyk pad is. Dankie dat U altyd daar is, dat U altyd met oop arms staan en wag om ons toe te vou en teen U bors te druk. Dankie vir tweeduisend jaar terug se spykers en bloed wat vandag oorvloed en ewige lewe beteken!

Amen

Related Articles

Back to top button