Vrouetandarts keer kardief in Hartebeespoort aan

Die polisie het gesê dat hulle nie hoop het om die gesteelde voertuig te vind nie, net om ingelig te word dat die tandarts dit klaar opgespoor het.

‘n Egpaar wat vroeër die jaar beide hulle werk verloor het, was byna hul enigste waardevolle besitting, ‘n Nissan NP200 bakkie, kwyt toe ’n kardief dit Dinsdag in Hartebeespoort gesteel het. Maar die dief het nie rekening gehou met ‘n dapper vrouetandarts wat op sy spoor was nie.

Dr Chantell Vosloo het Dinsdag vanuit haar spreekkamer in Scottstraat gesien hoe kardiewe ‘n bakkie in hul parkeerarea steel.

“Ek het my pasiënt net so in die stoel gelos en in die gang af geskree ‘wie ry ‘n bakkie, hulle steel hom?’”

Francois Olivier was by ‘n ander praktyk in die gebou en het saam met Chantell uitgehardloop, net om te sien hoe sy Nissan NP200 bakkie wegry.

Dr Chantell Vosloo

“Sy het nie ‘n oomblik gehuiwer nie, net gesê ‘kom!’ en toe is ons agter hulle aan,” sê Olivier.

Die twee is agter die kardiewe aan, maar het hulle ’n ent verder verloor.

“Die dokter het egter nie omgedraai nie, sy wou hulle kry,” vertel Olivier.

“Ons is Van der Hoffpad toe, verby die informele plakkerskamp, en toe met grondpaaie langs tot ons verkeersbeamptes op die R511 naby Saartjiesnek gesien het. Ons het by hulle gestop en gevra of hulle ‘n NP200 gesien het, maar hulle het nie. So met die omdraai terug na die dorp, sien ons die bakkie aankom,” sê Vosloo.

Sy het weer ‘n U-draai gemaak en die kardiewe van die pad gedruk.

Olivier het uitgespring en die dief uit sy bakkie geruk.

“Die verkeersbeamptes was byderhand en het hom in hegtenis geneem. Die dokter het my bakkie teruggekry!”

Vosloo het tydens die jaagtog, haar personeel by die spreekkamer gevra om die polisie en sekuriteitsmaatskappye in te lig.

“Ons was 30 minute weg van die spreekkamer. Die polisie het eers later daar aangekom en gesê hulle het nie veel hoop dat die bakkie teruggevind sal word nie. En toe deel ons hulle mee ons het dit klaar teruggekry,” sê Vosloo.

Olivier kan nie uitgepraat raak oor die brawe dokter nie.

“Sy is Hartbeespoort se Ystervrou. My vrou is baie siek en ons het albei vroeër vanjaar ons werk verloor. Die bakkie is omtrent al wat ons het en daar is nie versekering nie. Ek kan nie uitdruk hoe dankbaar ek is nie. As dit nie vir haar was nie, het ons nou niks gehad nie,” sê Olivier.

En wat het Vosloo gemotiveer om so vreesloos kardiewe agterna te sit?

“Sou jy dit nie ook doen nie?” vra sy.

Read original story on kormorant.co.za

Jana Boshoff

Award-winning community news journalist with over a decade's newsroom experience. Passionate about hard-hitting news stories!
Back to top button