Helpende Hand op soek na vrywilligers

Die gemeenskap word hiermee uitgenooi na Solidariteit Helpende Hand se inligtingsaand.

Solidariteit Helpende Hand benodig dringend vrywilligers en ondersteuners om voorspoed in die Roodepoort-gemeenskap te verseker.

Om dié rede nooi Helpende Hand se Wes-Rand en Vaaldriehoek Streek, en sy Roodepoort-tak, die gemeenskap uit na ‘n inligtingsaand om mense meer oor Helpende Hand se werk in te lig.

Helpende Hand sal ook tydens dié geleentheid sy kleuterskool en naskoolsentrum, genaamd Ons Plek Horison, en die Helpende Hand Wes-Rand Motorfietsklub bekendstel.

“Ons nooi die gemeenskap, gemeentes, sakemanne en skoolhoofde van die omgewing uit om die geleentheid by te woon. Ons gaan die aanwesiges meer vertel van die verskillende inisiatiewe wat ons in die gemeenskap aanpak, asook mense meer van ons toekomstige projekte vertel. Ons gaan gesels oor hoe die gemeenskap kan betrokke raak en voorstel aan wie hulle kan kontak,” het Roodepoort-takvoorsitter, Benjamin Meyer vertel.

Die inligtingsaand is op Woensdag, 19 Oktober om 18:00 vir 18:30 by Laerskool Horison. Die skool is geleë by Moutonweg 48, Horison in Roodepoort.

Volgens Meyer hoop Helpende Hand om ‘n sterk netwerk van ondersteuners in die gemeenskap te vestig. Hy sê daar is veral vrywilligers by Ons Plek Horison nodig wat leerders kan help met huiswerk en take soos kosmaak en kinders oppas terwyl hulle speel.

“Elke projek wat ons aanpak is deur die gemeenskap vir die gemeenskap. Hoe meer mense by Helpende Hand betrokke raak, hoe meer mense kan ons help en die gemeenskap selfstandig maak,” het Meyer vertel.

Vir meer inligting of om betrokke te raak by Helpende Hand, skakel Benjamin Meyer by 076 808 2499.

Benjamin Meyer, Ivana Meyer en Ettiene Schoombie by een van Helpende Hand se onlangse uitreikgeleenthede. Foto: Alanicka Lotriet.
Exit mobile version