Editor's note

Afwesigheidsbriewe wat jou hardop sal laat lag

Nie seker watter verskoning om te gebruik vir die volgende afwesigheid nie? Hier is 'n paar juwele wat jou dalk net uit die knyp kan help.

Die woord ‘skool’ mag dalk ‘n klein woordjie wees, maar die gevoelens wat daarmee gepaard gaan mag ‘n baie groot impak op mense hê; party het goeie herinneringe en het skool baie geniet, maar vir ander mag die herinneringe dalk nie so goed wees nie.

Die personeel by die Caxton Johannesburg-Wes kantoor het die afgelope Vrydag besluit om ‘n paar van hierdie skoolherinneringe terug te bring en het hul ou skoolklere onder uit hul kaste gaan haal en aangetrek. Vir party van ons was dit makliker as ander, aangesien daar heelwat van ons kollegas is wat ‘n paar dekades gelede matriek geskryf het.

Dit was groot pret om elkeen se skooldrag te sien, en die staaltjies wat gedeel is het ons sommer lekker laat giggel.

Daar is ook slegte herinneringe gedeel, wat my laat dink het aan die tipe verskonings wat ons (en party dae ons ouers) uitgedink het om ons afwesigheid by die skool te regverdig.

Ek het so ‘n bietjie gaan rondkrap op die internet om te sien watter tipe verskonings gebruik word, en het op ‘n paar juweeltjies afgekom wat ek graag met julle deel:

• Verskoon asseblief Lisa se afwesigheid. Sy was baie siek en die dokter het gesê sy moet dit afslaap, en toe het ek haar laat uitsit.
• Geagte skool, Dawie was afwesig gewees op Maart 29, 30, 31, 32 en ook 33.
• Verskoon asseblief vir Pierre, dit is sy pa se skuld.
• Santie was nie by die skool nie, want ek is ‘n enkelouer en was in die bed met Giep.
• Maryann was afwesig van die 11de tot die 16de. Sy het n keel, ‘n maag en ‘n kop. Haar sussie ook. Daar moet iets aan die gang wees, want hulle pa was ook gisteraand warm.
• Sally wil liewers vandag na ‘n begrafnis toe gaan.
• Jennifer was nie gister by die skool nie, want ons het gedink Maandag is Sondag.
• Vir wie ook al hierdie lees, Janco sal nie more skool toe kom nie, hy en sy pa is op jag.
• Jan-Jan het nie sy huiswerk gedoen nie, nou dwing hy my om ‘n verskoning uit te dink. U is sy klashoof, dink u liewers een uit. Ek het vyf kinders en ‘n man en is op gedink.

Watter verskoning het jy al gebruik om jou afwesigheid te verduidelik? Deel dit gerus deur dit te epos na adeleb@caxton.co.za.

Tot volgende week, bly veilig en wees goed vir mekaar …

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button