Gesoute inwoner vier sy 99e

Mens moet jou dae tot die maksimum gebruik en positief wees — Manie Duvenage.

‘n Dag wat mens nie regtig verwag nie, is hoe Manie Duvenage sy 99ste verjaarsdag onlangs beskryf het.

Hy het dié mylpaalverjaarsdag by sy huis in die Panorama-landgoed in Noordheuwel saam met sy vrou, familie, vriende en oudkollegas met koek en tee gevier. Oom Manie is op 24 September 1921 in Verkeerdevlei in die Vrystaat gebore, waar hy grootgeword en sy skoolloopbaan begin het.

Hy het sy hoërskoolloopbaan by die Sentraal Hoërskool Bloemfontein begin en in 1939 aan Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer, wat ook volgende jaar hul 100ste bestaansjaar vier.

“Hulle het my gekontak en vir my gevra of ek op 9 Oktober saam met hulle hul feesvieringe sal kom begin,” het hy vertel.

Hy het aan die Universiteit van Pretoria studeer en nadat hy sy BA-graad behaal het, het hy nagraadse studie aangepak. Dit is egter wat oom Manie as onderwyser en later skoolhoof vermag het wat hom alombekend en baie geliefd gemaak het, veral aan die Wes Rand.

Oom Manie het sy onderwysloopbaan begin by skole soos Hoërskool Vorentoe en Unieskool Klerksdorp. Hy was die hoof by Laerskool Swartruggens en later ook die onderhoof by Laerskool Drie Riviere.

Martie Duvenage, Mari Bester (kleindogter) en Manie Duvenage op sy verjaarsdag. Foto ingestuur.

Op 11 Desember 1954 het hy met Martie du Plessis getrou. Martie is in 1933 gebore en self al 87 jaar oud. Sy was ook ‘n onderwyser en die twee sal in Desember al 66 jaar lank man en vrou wees. Hy het in 1967 deel geword van die Wes-Rand toe hulle hierheen verhuis het en as hoof van Laerskool Burgershoop aangestel is.

Vier jaar later maak hy geskiedenis en sluit aan by die nuut gestigte Laerskool Horison waar hy die skool se eerste hoof tot sy aftrede in 1984 was. Maar in 1986 was hy instrumenteel in die eerste bestaansjaar van Laerskool Helderkruin waar hy vir ‘n jaar die pos as hoof beklee het.

Hy was die stigter en voorsitter van die Afrikaanse Kunsvereniging vir skole aan die Wes-Rand asook die Roodepoortse Instituut vir Skoolhoofde. Saam met ander hoofde het hulle die Lantern Skool in Roodepoort gestig wat vandag nog ‘n groot impak in die gemeenskap het.

Manie glo nog altyd dat al word dinge hoe moeilik mens elke dag spesiaal moet maak. Dit is ‘n lewensles wat hy op universiteit by sy Geskiedenis-professor geleer het.

Mens moet jou dae tot die maksimum gebruik en positief wees,” het hy vertel.

Na ‘n besige skoolloopbaan het Manie ook nog tyd gehad om twee boeke te skryf. Hy en Martie het twee dogters, Elsie en Susan. Manie het verduidelik dat hoe ouer ‘n mens word hoe kleiner word jou kring en hoe meer mense verloor jy, en ongelukkig moes die ouers ook afskeid neem van hul dogter Susan.

Deesdae spog Manie met twee kleindogters en een agterkleindogter, wat hy beskryf as,”…die mooiste kleinding wat daar nog ooit in die wêreld was”. Baie geluk aan Manie en aan Martie, mag hulle geseënd wees.

Exit mobile version