Voorspoed vir die nuwe jaar

Die eerste dag terug by die werk is gewoonlik nie baie lekker nie, veral as jy dink ’n week gelede het jy nog op die strand gelê of gekamp. Dan skop realiteit gewoonlik in en besef jy daar is nog net 11 en ’n half maande oor om jou vakansie te beplan en Kersgeskenke te …

Die eerste dag terug by die werk is gewoonlik nie baie lekker nie, veral as jy dink ’n week gelede het jy nog op die strand gelê of gekamp.

Dan skop realiteit gewoonlik in en besef jy daar is nog net 11 en ’n half maande oor om jou vakansie te beplan en Kersgeskenke te koop.

Ek hoop van harte almal het goed uitgerus vir die jaar se uitdagings wat voorlê. Maar wat beteken dit om goed uitgerus te wees? ’n Halwe dag terug by die werk en jy wonder hoekom jy so moeg is. Kan ’n mens werklik goed uitrus? Ek weet nie.

Ek was in Nelspruit saam met ’n gedeelte van die familie en Kersdag het ons by die Cybele Plantasie op pad na Hazyview gaan piekniek hou. Ons Kersete was vooraf beplan en teen Oukersdag was alles kant en klaar gemaak en voorberei.

Ongelukkig het die poeding by die huis gebly maar die asemrowende landskap het daarvoor opgemaak. Ons was vroegaand reeds by die huis net om te ontdek dat my ouers se getroue hond hemel toe is. Trane het gevloei.

Nie ’n lekker manier om die dag te eindig nie.

Terug in die geweste het ek besluit om Oujaarsaand by die huis te bly want ek het geweet ’n klomp idiote sal weer vuurwerke afvuur.

My hondjie was doodbang en het sommer in die bed by my kom inkruip. Dis so onnodig om vuurwerke te skiet; dit ten spyte van soveel advertensies wat mense waarsku om dit nie te doen nie.

Dit is seker een van die oorloë wat mens nooit sal wen nie.

Ongeag was dit ’n heerlike en welverdiende breuk. Ek en die res van die Record-span wens almal ‘n voorspoedige nuwe jaar toe.

Mag die jaar net vreugde, geluk en vrede bring.

Begin die jaar met geduld en wees goed vir ander mense.

Ek sal graag julle vakansie foto’s wil sien, stuur dit gerus na roelienv@caxton.co.za sodat ons dit met die ander mense ook kan deel.

Exit mobile version