Dit was ‘n goeie idee

Vyf kilometer is regtig nie so ver nie, het ek gedink. Ek het ‘n plan van aksie voorberei, en dis om so vinnig as moontlik te stap, dan is dit oor en verby, geen probleem nie, het ek gedink. Ha, dit was my eerste groot fout. Ek hou van stap en sal die vyf kilometer …

Vyf kilometer is regtig nie so ver nie, het ek gedink. Ek het ‘n plan van aksie voorberei, en dis om so vinnig as moontlik te stap, dan is dit oor en verby, geen probleem nie, het ek gedink. Ha, dit was my eerste groot fout.

Ek hou van stap en sal die vyf kilometer sommer gou-gou kafdraf. Tweede fout.

Daar gaan ander vroue ook wees en ons kan mos loop en gesels, derde fout.

Toe ek gesê het ek sal deel van die Get It Girls span wees om in die afgelope naweek se Spar Women’s Walk by Wandererspark deel te neem, het dit na ‘n goeie idee geklink.

Min het ek geweet ek gaan so styf en seer wees die volgende dag. Nie net styf en seer nie, so styf dat ek eerder na die badkamer to seil want my lyf is te seer om te loop. Ek het pyn op plekke wat ek nie geweet het ek het nie.

Duisende mense, meestal vroue, het die naweek saamgetrek om deel van die groot stap te wees. Almal het in pienk T-hemde opgedaag en die gemoedere het hoog geloop net voor die fluitjie geblaas het.

Die jubelende stemme was gou iets van die verlede toe die stappers die eerste bultjie, wat vir my eerder soos die groot trek oor die Drakenberge gevoel het, aangedurf is

Nee kyk, daar was deelnemers wat, in my opinie, die dag heeltemal te ernstig opgeneem het. Sommer van vroegdag al begin rek en strek en opwarm. Heeltemal te veel energie.

Die dag was ‘n reuse sukses. Die vroue, wat almal pienk T-hemde aangehad het, het regtig ‘n mooi prentjie gemaak soos ons deur die strate gestap het.

Die eindpunt was baie ver, maar ek en soveel ander stappers het dit bereik, met moeite. Nat gesweet en kort van asem, maar ons het dit gemaak.

Die het wel gevoel of daar ‘n kortsluiting tussen my brein en my bene was want nie een van die twee wou meer werk nie.

Net om die koppelaar van my voertuig te trap was ‘n foltering.

Ten spyte van die pyn en lyding, het ek die dag ten volle geniet. Ek is egter nog nie seker of ek dit weer sal doen nie, miskien as ek weer myself is…

Tot volgende week.

Ciao

Exit mobile version