Hierdie album beloof om liefhebbers van Afrikaanse musiek mee te voer met waardering

Stiaan Reynierse is in 2015 benoem vir ‘n Huisgenoot Tempo Toekenning as “Beste Nuweling” en sy album, ‘Sonde’, is gedurende Maart 2015 vrygestel. Dit bring ‘n unieke klank na die mark.

Hiervan getuig die titelsnit en die ander oorspronklike liedjies, elkeen met unieke lewering en klank, wat jou beslis twee keer sal laat luister. Stiaan was baie opgewonde om te werk aan ‘Genadewater’, saam met die legendariese, Richard van der Westhuizen, en sy weergawe van ‘Voshaarnooi’ laat ‘n mens in vervoering. Net wanneer jy sou dink dat slegs die oorspronklike kunstenaars behoorlik lewe kan gee aan hul eie treffers, maak Stiaan Johnny Cash se ‘Hurt’ en Simon & Garfunkel se ‘Bridge Over Troubled Water’ sy eie, asof dit sy eie emosies was wat na die papier gevloei het. ‘Middelburg My Lanie’ verg dat jy ‘n paar maal daarna luister om die diepte daarvan te verstaan en ‘Song vir Livan’ laat ouers na hul eie kinders verlang. 

Stiaan het sy kind-wees wortels in Middelburg, Mpumalanga geskiet, waar hy in ruil vir ‘n glasie wyn wat hy met sy snoepie geld vir sy oupa gekoop het, kitaar-lesse by hom gekry het.  Alhoewel hy op jong ouderdom reeds talent getoon het, het hy eers sy staal getoets as amateur bokser, totdat hy die geroep van die vehoog nie langer kon ignoreer nie.

Tydens 1997 tot 1999 was hy ‘n lid van die Mpumalanga Prestige Jeugkoor en tot en met 2000 ook ‘n lid van die Mpumalanga Prestige Orkes. Tussendeur het hy sy talent geslyp op verskeie feeste se verhoë en by privaat funksies. 

Stiaan se liefde vir musiek strek oor byna al die genre’s, maar dit is ‘rock’, ‘blues’ en so tikkie ‘country’ wat hom spesifiek na aan die hart lê. Terwyl hy aan ander internasionale sterre se musiek gemaklik sy eie interpretasie en uniekheid verleen, tref sy eie skeppings die hart hoofsaaklik, omdat dit vir die luisteraar ‘n kykie gee in sy wedervaringe met die lewe, liefde en God. Hy beskou dit as ‘n voorreg om al op van die land se grootste verhoë (Oppikoppi, Aardklop, Innibos) te kon optree en te deel met welbekende kunstenaars soos Koos Kombuis, Dozi en Deon van der Merwe.  Sedert 2011 is hy ‘n bekende gesig en stem by baie kuierplekke in Pretoria, Nelspruit en Middelburg. Die vooruitsig is om sommer gou regoor die land te toer.

 
Die album:

1.   Sonde
2.  Blomkind
3.  Middelburg My Lanie
4.  Genadewater
5.  Bang
6.  Voshaarnooi
7.  Song vir Livan
8.  Vergeef en Vergeet
9.  Save Me
10 Hurt
11. Bridge Over Troubled Water

Die produksie van die album is gedoen deur die ervare Andrew Roos van Brak Musiek, terwyl die musikale talente van Vinnie Henrico, Johan Rautenbach, Theo Klassen en Andrew self, ingespan is om die note in te kleur.

 

Musiek video – Blomkind:

Exit mobile version