Wie gaan die uitdaging aanvaar?

Winter klop-klop aan die deur. Dit word al hoe moeiliker om in die oggende op te staan want as jy so by die venster uitkyk is dit nog pikdonker. Winter is ongenaakbaar en koud. Almal word daardeur geraak. Niemand word ontsien nie. Alles verander. Die natuur gooi sy groen baadjie af, bome se blare verkleur …

Winter klop-klop aan die deur. Dit word al hoe moeiliker om in die oggende op te staan want as jy so by die venster uitkyk is dit nog pikdonker.

Winter is ongenaakbaar en koud. Almal word daardeur geraak. Niemand word ontsien nie. Alles verander. Die natuur gooi sy groen baadjie af, bome se blare verkleur en blomme verdwyn en dis amper asof die natuur ‘n geheimsinnigheid kweek. ‘n Koue stilte wat die mensdom omvou maar ook met opwagting na uitsien na beter dae.

Dis tyd vir warm klere, om snoesig toegedraai in ‘n wolkombers voor die televisie op te krul met ‘n stomende koppie warm sjokolade of Saterdagoggende tot laat oggend in die kooi lê, net om die ergste koue te vermy.

Tuisgemaakte sop en stomende, varsgebakte brood waar die botter sigbaar op smelt maak gesinsaande ekstra spesiaal.

Dit klink so idilies, maar die werklikheid is dat ek meestal soos ‘n opgestopte Kerskalkoen onder lae klere en komberse op die bank lê en televisie kyk, te bang om skielik te beweeg want anders voel dit of daar ‘n yskoue tornado wind sy pad onder die komberse in waai.

Glad nie so romanties nie. Maar dit is vir my ‘n tyd om stil te raak met my gedagtes. Dis asof die koue weer mens dwing om jou lewe te hersien, te beplan en miskien ook uit te sien na beter dae.

Al lyk die meeste van ons soos ‘n volgestopte kalkoen, is daar mense en diere wat nie so gelukkig is om lae warm klere te kan aantrek of in ‘n warm hondehok met ‘n kombers te kan slaap nie. Dis dan wanneer jy weet hoe geseend en gelukkig die meeste van ons is.

Die Engelse spreekwoord “Paying it Forward” kom skielik na vore en miskien is dit die jaar vir almal om net ‘n ietsie ekstra te gee. Net een kombers vir ‘n dier of ‘n oumensie wat deur rumatiek platgetrek word. Net een kombers wat ‘n reuse verskil in hul lewens sal maak.

Tot volgende week, kyk mooi na mekaar.

Exit mobile version