Wysdiman speel die verhoë warm

Ontmoet Wysdiman, 'n vyf-stuk band "van die randjie van die Wes-Rand" wat glo in harde rock en deurdagte lirieke.

Die record het onlangs met Wysdiman gesels wat hulself as ‘n hard rock-groep beskryf. Die groep van vyf bestaan uit Bruce Bleed, Ruan Rabie, Quintin Bannink, Jacques Potgieter en Wynand Potgieter, almal Wes-Randers.

“Ons doen rock ‘n roll met ‘n bietjie van ‘n byt,” vertel hoofsanger Bruce. “Op die oomblik is ons hard aan die skryf aan nuwe materiaal vir ‘n nuwe uitreiking wat op die 2013 Vat Vlam EP sal volg.

“Ons stoom nog voort met gigs en speel die stages warm wanneer ons die geleentheid kry.”

Hulle het ‘n groter prentjie van goeie musiek, Battle of the Bands-kompetisies en ‘n nuwe begin vir die record geskets.

Wie is die ‘impersonators’ waarna julle so graag verwys?

“Kom ons noem ‘n graaf ‘n graaf – daar is goeie en slegte musiek daar buite. Met die internet en veral sosiale media wat die musiekindustrie al vir die laaste 10 jaar op sy kop draai, het daar goeie en slegte dinge gekom. Dit is goed in die sin dat die geleenthede om jou musiek gehoor te kry legio is. Dit het ook elemente gebring waar die musiek partykeer sekondêr raak. Daar is goeie musiek wat baiemaal nie gehoor word of erkenning kry nie net omdat die musikante daaragter nie aktief is op of slim werk met sosiale media nie … dit kan die prentjie lelik skeeftrek en bands laat lyk na iets wat hulle nie is nie.”

Vertel ons meer van 2000 en Nag (2010). Wat het in 2011 verander, na die album uitgereik is? Ek verstaan 2010 het ‘n einde gebring aan ‘n sekere tydperk vir die groep.

“Alhoewel dit nooit die intensie was tydens die opnames van 2000 en Nag nie was die album uiteindelik ‘n afsluiting van die eerste vyf jaar van Wysdiman met ‘n versameling van ons gunstelinge.

“Kort daarna het al die lede buiten ek besluit om ‘n ander pad te stap,” vertel Bruce.

“Ek het vir Ruan ontmoet en ‘n nuwe Wysdiman aanmekaar geslaan – dit is nou die bevange manne en hul klanke wat jy vandag hoor en sien.

“Ons het die boek met al die ou materiaal toegemaak en ‘n nuwe, meer edgy, doelgerigte en kragtige rigting in musiek ingeslaan.”

As ek julle kan aanhaal praat julle prominent van ‘swak, vlak en vervelige musiek’ en dit is duidelik vir julle belangrik om daarteen te stry.

“Tot ‘n sekere mate sit ons bloot die oorlog voort teen mense wat borrelgommusiek maak … ouens wat sing oor rooi rok bokkies en leeus wat loop. Daardie musiek het geen boodskap of substansie nie … dit roer nie die hartsnare nie, dit laat jou nie dink nie en daar word nie ‘n poging aangewend om ‘n instrument te speel soos dit hoort nie.

“Dit is net so erg soos die Amerikaanse hip-hop sterre wat net oor karre, geld, partytjies en vroue sing. Waar is die trots, die vrye denke en kreatiwiteit daarin?

“Alhoewel dit eintlik nie so lank terug is nie het Fokofpolisiekar se boodskappe daaroor in ‘n ander plek en tyd uitgekom.

“Johannesburg is nie vir sissies nie en daarom bied Wysdiman iets nuut aan vir die ore.”

Oor julle EP, Vat Vlam (2013) — beplan julle om van die musiek later in ‘n vollengte-album in te sluit?

“Nadat ‘n enkelsnit in 2012 uitgereik is en die video daarvan op MK se speellys was, was die volgende stap ‘n EP. Vat Vlam was die eerste paar nommertjies wat ons vir die publiek gegee het (nadat Wysdiman hervorm is) en ons het dit gratis beskikbaar gestel op SoundCloud. Daar was ‘n paar radiostasies wat die snit Die Laaste Keer gebruik het en waarvan daar ook ‘n musiekvideo uitgereik is.

“Van die snitte mag dalk op ‘n vollengte-album verskyn maar die fokus is eerder om ‘n paar nuwe nommertjies vry te stel.”

Wysdiman is Vrydag 2 Mei by Rumours Lounge in Weltevreden Park te sien saam met Thundermerwe en Jack Parow.

Exit mobile version