‘Ek Joke Net’ se Hannes Brümmer verlang na Roodepoort

Brümmer wil net aanhou werk en mense laat skaterlag, vertel hy.

Die Record het op Donderdag 28 Maart met oud-Roodepoorter, Hannes Brümmer (35) oor sy rol in die nuwe fliek Ek Joke Net 2 gesels.

Brümmer, wat by Hoërskool Die Adelaar skoolgegaan het, was self by die draaiboek vir die opvolgfliek betrokke en is opgewonde oor die uitreiking daarvan. Hy het ook vir die Record vertel van die aspekte van Roodepoort waarna hy verlang.

Brümmer het drama studeer aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en in 2000 sy graad behaal. Hy het agt jaar gelede ook betrokke geraak by verhoogkomedie en by die Parkers Improv Comedy Express-klub aangesluit. Hy was by die kreatiewe en die toneelspelaspekte van die TV-reeks Kompleks betrokke wat vir hom die geleentheid gebied het om sy komedietalente te slyp. Hy het ook teenoor Marius Weyers en Anna-Mart van der Merwe in Amalia gespeel, en het gasrolle vertolk in die Afrikaanse sepies Villa Rosa en Binnelanders. Brümmer is tans te sien in die tieneraksierolprent, Agent 2000.

“Dit was hope pret om die rol te vertolk, hoewel ek ongelukkig nie by die aksietonele betrokke was nie.”

Sy eerste projek nadat hy sy graad voltooi het was ‘n verhoogstuk genaamd Skoenlapper deur dramaturg Paul C Venter.

“Dit was vir my ‘n wonderlike geleentheid om te sien hoe die bedryf werk,” sê Brümmer. “Ek kan deesdae skaars asemhaal met al die projekte waarby ek betrokke is.”

Hy sê dat sy meisie hom gelukkig baie ondersteun in sy loopbaan. Hulle woon in Rooihuiskraal in Pretoria. Maar hy raak baiemaal nostalgies oor Roodepoort.

“Ek kuier gereeld by my ouers in Roodepoort en raak nostalgies oor die kere toe ek daar fietsgery het.

“Ek mis die [Walter Sisulu] Botaniese Tuin.”

Brümmer glo dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf van krag tot krag gaan, en droom “maar net daarvan om aan te hou werk en mense te laat skaterlag”.

Ek Joke Net 2 is vanaf Donderdag 1 Mei landswyd in Ster Kinekor-teaters te sien.

Exit mobile version