Sport

Drie dapper trappers op pad Kaap toe vir diere-organisasie

Drie afgetrede vriende van Roodepoort pak die langpad Kaap toe op twee wiele.

Jarelange vriende en fietsryentoesiaste Eddie Steyn (68), Frank Conwright (60), en Deon Nortje (65), het Sondagoggend die fietsrit van ‘n leeftyd aangepak.

Die trio, oraloor bekend as Die Drie Ou Ballies, ry al die pad van die Princess Crossing-winkelsentrum, tot by die Animal Anti-Cruelty League se perseel in Epping, Kaapstad om geld vir die organisasie se dierebeskermingsbedrywighede in te samel.

Hierdie epiese 1 400km rit is reeds vir etlike jare in beplanning, en moes al ‘n keer of twee uitgestel word.

Die oudste van die drie dapper trappers, Eddie, droom al jare daarvan om die langpad Kaap toe op sy fiets aan te durf.

So ‘n rit is inderaard nie iets wat mens in ‘n naweek inpas nie, so dit moes maar wag totdat hy uiteindelik op pensioen kon gaan.

Frank Conwright en Eddie Steyn pak die langpad Kaap toe.

Ongelukkig het Eddie in die jare na sy aftrede ‘n rits mediese probleme ondervind en moes hy ‘n hartomleiding, ‘n heupvervanging, en drie rugoperaries verduur, wat hom gedwing het om hierdie eerste item op sy emmerskoplys vir eers opsy te skuif.

Uiteindelik hierdie jaar het alles in plek geval en kon Eddie sy droom bewaarheid.

Hy het sy goeie ‘ou’ vriende nadergetrek om deel te neem en hulle oefen nou al maande lank ywerig vir hierdie massiewe uitdaging.

Deon, wat saamry, maar nie op twee wiele nie, sê hy sien uit daarna om deel te wees van die waarwording van sy ‘baie entoesiastiese goeie ou vriend se groot droom’.

Die Ballies se kenteken is prominent op hul Kombi aangebring.

“Ek speel die keer die rol van ondersteuner op die pad,” sê Deon, wat voel dat hy eenvoudig nie fiks genoeg is vir so ‘n tweewiel-avontuur nie.

“Ek ry die Kombi met al die toerusting wat sorg dat my span alles het wat hulle benodig.”

Volgens Deon is die plan dat hy deur die gevaarliker areas agter die fietsryers aanry om seker te maak dat hulle veilig is.

“Wanneer hulle die oop pad tref, mik hulle vir so tussen 80 en 120km per dag. Dan gaan ek telkens 20km vooruit ry en wag dat hulle opvang.”

Frank vertel dat hulle as deel van hul voorbereiding uitgewerk het hoe lank dit hulle sal neem om 20km te ry.

Frank Conwright en Eddie Steyn pak die langpad Kaap toe.

“Deon is onder streng bevele om, sou ons nie in die voorafbespreekde tyd hom inhaal nie, terug te ry om ons te kom soek.”

Die opgewondenheid het Sondagoggend, 26 Mei op die parkeerterrein van die winkelsentrum hoog geloop waar ’n klein skare saamgedrom het om die trio sterkte toe te wens en hulle af te sien. Hier en daar het ‘n familielid hard gesluk aan hul bekommernis. Hulle is uiteraard nie meer so jonk soos hulle eens was nie.

“Ek wil vir elkeen van julle vanoggend bedank dat julle my in my droom ondersteun,” sê Eddie, waarna hy en sy mede dapper trappers mekaar persoonlik gegroet het en sonder skroom die pad aangedurf het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button