Sport

Havie onderwyser verkies tot die vroue Super League Bulls netbalspan

Chantel Kemp dra nie net by tot die opleiding van die volgende generasie nie, maar sy is ook 'n gedugte opponent op die aksienetbalbaan.

Laerskool Dr Havinga se eie Chantel Kemp is verkies tot die Super League Ladies Bulls-span.

“Ek sal graag my kennis wil oordra aan ander netbalspelers,” het Kemp vertel.

Sy het verduidelik hulle het in Mei proewe gespeel vir die span en aangesien daar so baie mense is wat vir die span uitgedun het, het hulle ‘n tweede rondte in Junie. In Julie is sy tot die span verkies en op 14 Oktober het hulle hulle eerste wedstryd gespeel, waar hulle met twee punte gewen het.

Sy het bygevoeg dat waarvan sy die meeste hou van aksienetbal is die vinniger spel. Sy het netbal op skool gespeel, maar ongelukkig was daar nie klubs waar sy na skool kon netbal speel nie, en toe sy stad toe trek het sy by ‘n aksienetbalklub in Centurion aangesluit. Sy oefen steeds elke Maandagaand daar, waar hulle wedstryde teen ander superliga spanne speel, asook sosiale wedstryde en op Dinsdae oefen sy in Krugersdorp.

Sy het ook haar skeidsregtersopleiding voltooi en al by ‘n paar sosiale wedstryde as skeidsregter opgetree. Sy het genoem dat haar volgende doelwit is om verkies te word vir die provinsiale span.

“Ek wil sien hoe ver ek kan gaan; provinsiaal, SA-span of selfs net om vir die Bull-span te speel. Wat ookal vir my bestem is, daarmee sal ek tevrede wees,” het Chantel bygevoeg.

Aan voornemende spelers sê sy, “Wees oopkop, aksienetbal is baie anders en dis ‘n aanpassing. Wees fiks en voorbereid en geniet dit. Ek sal beslis ander aanraai om dit te probeer.”

Sy het afgesluit deur te sê dat sy graag volgende jaar een van die spanne by die skool sal wil afrig en haar kennis met hulle deel en so die volgende generasie netbalspelers help vorm.

Related Articles

Back to top button