Evan hardloop sy sesde Comrades, is nou reg vir nuwe uitdagings

Die onderwyser sal graag die Two Oceans, wat 56km lank is, in Kaapstad volgende aandurf.

Laerskool Horison se adjunkhoof, Evan Coetzee (38) het vanjaar sy sesde Comrades Maraton gehardloop.
Die maraton word as ‘n ultramaraton beskryf en bestaan uit 89km van begin tot einde. Evan vertel dat hy sy eerste Comrades Maraton in 2014 bygewoon het.

“Die maraton gogga het my daardie jaar gebyt,” voeg Evan met ‘n glimlag by.

Hy verduidelik toe dat hy nog altyd ‘n passie vir langafstand hardloop het en wil graag sy drie seuns, sowel as die leerders by sy skool, inspireer deur om die Comrades te hardloop.

“Ek het die jaar een van my beste tye bereik, ses ure en 53 minute,” vertel hy, “die maraton het vir my meer beteken as net ‘n hoë posisie, dit het meer oor die ervaring gegaan.”

Hy het twee maande voor die tyd al 120 tot 150km ‘n week gehardloop in voorbereiding vir die maraton.

“Ek en my seuns neem ook gereeld deel aan die Ruimsig parkrun,” las Evan by, “ek rig ook graag middelafstandatlete in die Ruimsig area af.”

Evan sal graag die Two Oceans-maraton, wat 56km lank is, in Kaapstad volgende aandurf. “Mens moet nooit nee sê nie, so, alhoewel ek nou dink vanjaar was my laaste Comrades, weet mens nooit wat die toekoms inhou nie,” verduidelik hy.

Sy advies vir atlete wat ‘n ultramaraton wil aanpak is om seker te maak hulle beplan alles.

“Die belangrikste aspek van jou voorbereiding is om reg te beplan. Beplan wat jy gaan eet, hoeveel vloeistof jy inneem en hoe jy gaan hardloop. Wees realisties en onthou om dit te geniet!”

Evan wil graag sy familie, asook sy Horie-familie, bedank vir hulle bystand en ondersteuning.

Exit mobile version