Stokke swaai vir ‘n goeie doel

Laerskool Roodekrans se jaarlikse gholfdag was weereens 'n reuse sukses.

Die Roodies het weereens hul omgee harte gewys toe hulle hul jaarlikse gholfdag op 20 Oktober by Ruimsig Country Estate gehou het.

Alhoewel dit in die middel van ‘n hittegolf plaasgevind het, het dit nie die spelers afgeskrik nie. Hulle het in ‘n feestelike luim opgedaag, en kuier-kuier van putjie tot putjie gespeel, waar hulle darem ietsie vir die honger en ‘n koue lafenis of twee kon kry om die ergste hitte hok te slaan.

Bruce Jonker kyk die bal agterna.

Meeste van die spelers het vir die pret gespeel, maar daar was ook die ernstiger spelers wat die uitdagende baan met oorgawe aangepak het.

Na ‘n vol dag van pret op die gholfbaan, het die spelers na die klubhuis teruggekeer, waar hulle ‘n heerlike aandete geniet het en hul pryse vir die dag ontvang het. Hulle was ook heerlik vermaak deur Pieter Koen, wie die spesiale gas by die geleentheid was.

Leon Becker, xx, Christiaan Koekemoer en Danie Meyers.

Die fondse wat tydens hierdie geleentheid ingesamel is, word aangewend om kinders die nodige hulp aan te bied waar finansiële omstandighede dit verhoed. Van hierdie projekte sluit in; volledige akademiese evalusies deur ‘n opvoedkundige sielkundige, ‘n voedingskema vir behoeftige leerders by die skool, maatskaplike dienste, ondersteuning aan leerders wat in omliggende kinderhuise woon, ondersteuning aan die skool se se tweelingskool, Laerskool Claremont, in die vorm van skryfbehoeftes, skoolmateriaal, klere, kos, en ander nodige ondersteuning, asook ‘n jaarlikse Kersfeesprojek waar klere en geskenke aan behoeftige kinders geskenk word.

Christiaan Koekemoer gee dit sy alles met die afslaan.

Die skoolhoof, Deon Rousseau, het elkeen wat by die dag betrokke was, van die skoolpersoneel, leerders, ouers en borge bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.

Exit mobile version