School sportSport

Sakke vol medaljes vir Florida se broer-en-suster-duo

Hierdie twee droom daarvan om eendag wêreldkampioene in diskus en gewigstoot te wees.

Laerskool Florida se dinamiese broer-en-suster-duo het weer uitstekend op die atletiekveld gevaar en vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer.

Die Graad 6-atleet, Keanu Nel het gekwalifiseer om aan drie items, naamlik diskus, gewigstoot en spiesgooi in dié atletiekseisoen deel te neem. Hy het gedurende die Interlaeratletiekbyeenkoms, Roodepoort- en D12-kampioenskappe sowel as by die Gauteng Kampioenskappe, sakke vol gouemedaljes ingepalm en nuwe rekords in diskus opgestel. Met sy prestasies en talent op die atletiekveld is hy vanjaar as Florries se victor ludorum by die interhuisbyeenkoms aangewys.

Domunique en Keanu Nel. Foto: Verskaf.

Die Graad 4-atleet, Domunique Nel het tydens die atletiekseisoen weereens haar talente in die gewigstoot ten toon gestel. Tydens die Interlaeratletiekbyeenkoms het sy die gewigstootrekord van 7,55 meter met ‘n poging van 9,90 meter verbygesteek. Sy het tydens die jaarlikse D12-kampioenskappe nog ‘n rekord van 9,41 meter opgestel.

Met hul uitstekende prestasies het albei gekwalifiseer vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, wat vir later vanjaar beplan word.

Die twee atlete oefen elke dag baie hard om hul droom om eendag wêreldkampioene te wees, te bewaarheid.

Related Articles

Back to top button