Die vier Van Eedens is atletiekmusketiers

Die vier gewigstoot- en diskusatlete mik om aan die Gauteng Kampioenskappe deel te neem

Die sport vloei definitief sterk deur die are van die vier Van Eeden- meisies, Leoné, Kara, Zanique en Zanel, en hul atletiekmedaljes kan daarvan getuig.

Leoné, ‘n Graad 5-leerder van Laerskool Dr Havinga, en Kara, wat in Graad 4 in dieselfde skool is, het hulself reeds vroeg in die jaar as bobaasatlete bewys.

Kara en Leoné van Eeden. Foto: Halisje Crous.

Leoné het die gewigstootrekord van 8,89 meter, wat 20 jaar gestaan het, verpletter toe sy ‘n afstand van 9,78 meter behaal het. In die diskusitem het sy die rekord van 21,17 meter, wat in 2016 opgestel is, met amper drie meter verbeter toe haar diskus op die 24,95 meter-merk geland het. Hierdie prestasies het haar tydens vanjaar se huissportbyeenkoms die titel as Beste Veldatleet besorg.

Kara het vanjaar Havie-geskiedenis gemaak toe sy die gewigstootrekord wat die afgelope ses jaar gestaan het, met meer as ‘n meter verbeter het tot 8,74 meter.

Zanique, ‘n Graad 11-leerder by Hoërskool Florida en gereelde hokkiespeler, het vanjaar vir die eerste maal die diskus opgetel en ‘n silwermedalje verwerf.

Zanel en Zanique van Eeden. Foto: Halisje Crous.

Haar suster, Zanel, ‘n Graad 8-leerder by Helpmekaar Hoërskool, het in al haar atletiekitems – spiesgooi, gewigstoot en diskus – gouemedaljes verwerf. Met hierdie prestasies is sy tot die Helpmekaar Goue A-atletiekspan verkies om haar skool by die komende byeenkomste te verteenwoordig.

Dié vier gewigstoot- en diskusatlete mik na die Gauteng Kampioenskappe en oefen tans hard om hierdie mylpaal te bereik.

Exit mobile version