Havies se Ruben praat oor sy rugbyervaring

'Die Bokke was wenners in my oë'

 

Die 12-jarige Ruben Kies het onlangs die geleentheid gehad om saam met sy rugbyhelde in ‘n stampvol Loftus Versfeld te staan.

Dié Graad 6-leerder van Laerskool Dr Havinga was een van die vlagdraers tydens die toets tussen die Springbokke en die All Blacks van Nieu-Seeland. “Dit was ’n ongelooflike ervaring, een wat ek nie gou sal vergeet nie!” het hy gesê.

Lizelle Kies, Ruben se ma, het vertel, “Spur het in Julie ‘n kompetisie op hulle Facebook-blad gehad, waarvoor jy jou kind kon inskryf. Ek het Ruben al tevore ingeskryf, maar hierdie keer was hy gelukkig. Ek was uit my vel van vreugde toe ek gehoor het hy is gekies as een van die vlagdraers, en kon nie wag om hom die nuus te gee nie!”

Die vlagdraers op die veld voor die begin van die rugbytoets. Foto’s: Verskaf.

Vir Ruben was dit ‘n groot verrassing, en hy was sprakeloos. “Ek kon nie glo dat hulle my gekies het nie, en hetgewens dat die tyd sommer vinniger verbygaan. Ek het ook gewens dat my ouers my eerder later vertel het, want ek kon nie wag om Loftus toe te gaan nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat al die vlagdraers die Woensdag voor die groot toets by die stadion bymekaar gekom het en geoefen het. Hulle het ook hul uitrustings vir Toets-dag – ‘n spesiale T-hemp, kortbroek en kouse – ontvang.

“Ek kon die aand voor die tyd glad nie slaap nie en was die oggend van die toets sommer baie vroeg al gereed. Ek kon nie wag dat ons ry nie, en was super opgewonde! Ons het ons eie kleedkamer gehad waar ons vir ons groot oomblik gewag het, en ek het sommer ‘n hele swerm vlinders in my maag gehad! Toe ons op die veld stap, het die skare soos een man gejuig, en ek het soos ‘n Springbok-speler gevoel,” het Ruben vertel.

Ruben Kies voor die begin van die rugbytoets op Loftus Versfeld. Foto: Lee Warren/Gallo Images.

Hy het bygevoeg dat hy die volkslied uit volle bors saam met Refentse gesing het, en het gesê, “Alhoewel ek kliphard gesing het, kon ek myself nie hoor nie, so hard het die skare saamgesing. Ek het hoendervleis van kop tot tone gehad

Lizelle het gesê dat dit vir hulle as ouers ‘n ongelooflike groot oomblik was om hul seun met die Suid-Afrikaanse vlag op die veld te sien draf. “Die atmosfeer op Loftus was ongelooflik, en ek het weereens besef dat rugby beslis mense verenig. Toe die volkslied begin speel, was die oomblik net te groot vir my, en ek kon nie eers saamsing nie! Dit was beslis ‘n ervaring wat al ons verwagtinge oortref het,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle nie genoeg vir Spur en sy werknemers kon dankie sê nie. “Hulle was baie vriendelik en behulpsaam en het ons op die hande gedra. Hulle het so mooi na ons kinders omgesien, en selfs die jongste maatjie was nie eers bang nie,” het Lizelle gesê.

Die ervaring is beslis een wat Ruben altyd sal onthou. “Ek het nooit gedink dat ek so trots op my land en span sou wees nie, en al het ons nie gewen nie, was die Bokke wenners in my oë. Die All Blacks moet maar gaan oefen; ons kry hulle volgende keer,” het hy afgesluit.”

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version