‘Ek het die groen-en-goud met trots gedra’

Wêreldbeker-ervaring een om altyd te onthou

 

“Ek het besef dat ek nou een van die min Suid-Afrikaners is wat kan sê dat ek ‘n Springbok is,” het Retha van der Walt, 61, gesê.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring om as deel van die Suid-Afrikaanse Meestershokkiespan aan die Wêreldbeker te kon deelneem. Die feit dat ek dit op my ouderdom kon beleef, het dit net nog meer spesiaal gemaak,” het sy bygevoeg.

Retha van der Walt het aan die Meesters Wêreldbeker-hokkietoernooi deelgeneem. Foto: Adéle Bloem.

Die toernooi het van 25 Julie tot 6 Augustus in Barcelona, Spanje, plaasgevind, en Retha het vertel, “Daar het 16 lande deelgeneem, en ons het 10de geëindig. Ons het ses wedstryde gespeel, waarvan ons drie gewen en drie verloor het.”

Die span se uitslae was as volg:

• Wen teen Frankryk: 11–0

• Verloor teen Australië: 5–0

• Wen teen Spanje: 2–1

• Verloor teen Amerika: 3–2

• Wen teen Duitsland: 2–0

• Verloor teen Nieu-Seeland: 3–0

Sy het bygevoeg dat hul eerste wedstryd teen Frankryk vir haar besonders was – nie net omdat hulle met ‘n oorwinning van 11–0 kon spog nie, maar omdat sy daar besef het dat sy nou ‘n volwaardige Springbok is. “Toe ek saam met die SA-span op die veld stap, het ek baie teenstrydige emosies ervaar. Ek was trots, oorweldig, senuweeagtig en moes hard aan die knop in my keel sluk. Dit was ongelooflik dat ek daar in die groen-en-goud, langs spelers van ‘n ander land kon staan, gereed om die Wêreldbeker te probeer wen. Net daar het ek besluit dat ek my alles sal gee, sodat die keurders nie na die tyd kan wonder hoekom hulle my gekies het nie. Ek het geweet dat ek Suid-Afrika nooit vir enige ander land sal verruil nie,” het Retha vertel.

Retha het gesê dat sy voor die toernooi baie gespanne was omdat dit die eerste keer in jare was wat sy haarself aan die beste spelers van ander lande kon meet. “Ek het gesien dat die manier waarop ons hier speel en afrig nie baie verskil van die manier waarop dit in ander lande gedoen word nie. Ons gebruik dieselfde spelpatrone en formasies, wat beteken ons is op die regte pad,” het sy gesê.

Sy het met die volgende woorde afgesluit, “Dié ervaring het my gewys dat spaneenheid en goeie spangees wel moontlik is. Dit is iets wat ek as afrigter baie graag aan my spanne wil oordra. Elke spanlid het ‘n spesifieke rol in die span, en as jy dit 100 persent doen, sal die span net goed vaar.”

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version