Help om Roodekrans seun se rugby-droom te bewaarheid

Diaan is gekies om na Ierland én Mauritius te toer

 

“Hierdie is definitief ‘n groot kans vir hom om soveel blootstelling moontlik te kry sodat ander ook sy potensiaal kan raaksien.

“Dit is vir seker ‘n eenmalige geleentheid vir hom,” het Amanda de Wet gesê. Sy is die ma van die 13-jarige Diaan Malan wat onlangs gekies is om rugby in Ierland en Mauritius te gaan speel.

Amanda het vertel dat Diaan tydens die King Edward School (KES) Easter Festival gekies is om ‘n 10-dagtoer na Ierland mee te maak. “Net na hierdie toernooi het Laerskool Roodekrans ‘n ligawedstryd teen Laerskool Randfontein (Ram) gespeel. Die volgende Maandag is hy kantoor toe geroep om ‘n brief te gaan haal wat ons ingelig is dat hy ook gekies is om aan ‘n sewestoernooi in Mauritius deel te neem,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat Diaan ook reeds saam met die skool se krieketspan getoer het. “Ons is baie dankbaar vir sy talent, maar die uitgawes wat met hierdie eer gepaard gaan, is astronomies,” het Amanda gesê. Die twee rugbytoere saam gaan die gesin sowat R65 000 uit die sak jaag.

Vir Diaan, wat rugby speel vandat hy drie jaar oud is, is dit ‘n baie groot geleentheid. “Ek voel baie trots dat ek gekies uit heelwat ander spelers, maar besef dat ek dankbaar moet wees vir die talent wat ek gekry het, want dit kan enige tyd van jou af weggeneem word. Ek is baie opgewonde om nuwe mense te ontmoet, nuwe dinge te leer en ook vir die eerste keer aan die sewes deel te neem,” het hy vertel.

Hy speel die afgelope twee jaar flank vir sy skool se eerstespan, en wil nie nét eendag vir die Springbokke uitdraf nie. Hy sal graag ‘n draai by die Blitsbokke ook wil maak. “My grootste rugbyheld is Siya Kolisi, want hy is ‘n baie goeie flank en leier. Alhoewel ek my eie speelstyl het, sal ek graag so ‘n goeie leier soos hy op die veld wil wees. In die sewes is Seabelo Senatla definitief my gunsteling,” het hy blinkoog vertel.

Diaan is boonop ‘n kranige atleet, en het al heelwat prestasies behaal. Diaan se ouers is hard besig om die geld vir hierdie twee toere bymekaar te probeer kry sodat Diaan hierdie geleenthede kan benut. “Ons het donasievorms ontvang van die twee organisasies wat die toere reël en het reeds ‘n gedeelte van die geld ingesamel. Ons het nog ‘n lang pad om te gaan, en sal enige hulp waardeer. Ek wil ook net noem dat die donasies direk in die organisasies se rekeninge betaal word,” het Amanda gesê.

Vir meer inligting, kontak Amanda by 074 138 0404, stuur ‘n epos na amanda19091dewet@gmail.com of besoek die Facebook-blad.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version