Atleet voltooi eerste ystermankompetisie

"Ek voel soos 'n ysterman en baie trots. Ek voel ek het iets bereik wat baie min ander nog kon," het die 35-jarige Rikus Kranhold gesê.

 

Rikus Kranhold het die afgelope Ystermankompetisie, wat in Port Elizabeth plaasgevind het, in 12 uur, 40 minute en 21 sekondes voltooi.

Rikus het die kompetisie as ‘n ongelooflike ervaring beskryf en gesê, “Voor die wedloop het ek baie gemengde gevoelens ervaar, en ek was senuweeagtig, tog ook opgewonde. Maar toe die wedloop begin het, het ek net een doel voor oë gehad, en dit was om binne die voorgeskrewe tyd by die eindpunt aan te kom.”

Rikus Kranhold het die Ystermankompetisie voltooi. Foto: Adéle Bloem

Hy het bygevoeg dat die swem goed afgeloop het en dat hy dit baie geniet het omdat die water redelik kalm was. “Ek het nagenoeg ‘n uur en ‘n half in die water spandeer voordat ek die fietsrygedeelte aangepak het. Ek moet bieg dat toe ek by die 90km-merk kom, ek myself afgevra het of ek weet wat ek doen. Die aanmoediging van die toeskouers laat jou egter vir ‘n oomblik vergeet waarmee jy besig is, en dan gaan jy weer aan. Die roete was baie mooi, en dit het gehelp. Ek was so ses en ‘n halfuur op die fiets, maar toe ek begin hardloop het, het ek geweet ek het hom in die sakkie,” het hy vertel.

Die grootste motivering vir Rikus was definitief sy familie wat langs die pad gestaan het om hom aan te moedig. “As dit nie vir my vrou, Yolandé en dogtertjie, Miché, asook die familie van PE was nie, sou ek dalk nie kon deurdruk tot die einde toe nie. As mens hulle langs die pad sien, vergeet jy van al die pyn en moegheid,” het hy gesê.

Vir hom was dit ‘n onbeskryflike gevoel om die eindstreep oor te steek, veral omdat die laaste twee kilometer vir hom die beste was. “Dit is waar jy besef dat dit waarvoor jy gewerk het, nou vrugte afwerp en dat die einde in sig is. Ek het baie trots gevoel, maar moes hard sluk om van die knop in my keel ontslae te raak,” het Rikus gesê.

Rikus Kranhold voor die kompetisie. Foto: Verskaf

Alhoewel hy tevrede met sy voorbereiding was, het hy gesê dat hy dalk ‘n bietjie meer op die fietsry moes gekonsentreer het omdat meer tyd op die fiets deurbring word. “Ek het gevoel dat die moeilikheidsgraad van al drie die items dieselfde was, maar as ek moes kies, sou ek beslis sê die fietsry was vir my die moeilikste.”

Rikus het een van sy grootste uitdagings suksesvol voltooi, en het sonder huiwering gesê, “As ek die geleentheid kry, sal ek weer aan ‘n ystermankompetisie deelneem – miskien een oorsee”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version