Editor's choiceLatest SportSport

Witpoortjie-hengelaar presteer tydens kampioenskappe

Francois tot die SA Presidente-span verkies

 

“Ek was baie in my skik toe hulle my naam uitlees, want ek het dit nie verwag nie,” het Francois Pienaar gesê.

Hy is tydens die afgelope Suid-Afrikaanse Meesterskampioenskappe vir see- en rotshengel tot die Suid-Afrikaanse Presidentespan verkies. Die kampioenskappe het in Jeffreysbaai oor ‘n tydperk van drie dae plaasgevind, en Francois het so verduidelik, “Ons het elke dag van 7vm tot 3nm gehengel, en die gewig van al die vis wat jy op die dag gevang het, is bymekaar getel. Aan die einde van die derde dag is al die totale bymekaar getel, en die wenner is so bepaal.”

Francois Pienaar is tot die SA Presidente-hengelspan verkies. Foto: Adéle Bloem

Hy het bygevoeg dat die visse wat gevang word dadelik deur weegbeamptes geweeg word, waarna die hengelaars dan die visse in die water moet terugsit. “Jy mag glad nie weer jou lyn ingooi voor die vis wat jy teruggesit het, weggeswem het nie. Die kampioenskappe werk op ‘n vang-en-vrylaatbasis,” het hy vertel. Die hengelaars kry een punt per kilogram vir nie-eetbare visse en twee punte per kilogram vir eetbare visse.

Francois het baie goed tydens die kampioenskappe gevaar en met ‘n algehele negende plek (uit 72 hengelaars) geëindig. Hy het die beste in die Sentraal-Gauteng-streek gevaar.

“Gewoonlik kies hulle die eerste 12 op die ranglys vir die Presidentespan en omdat ek 13de was, het ek nie gedink ek sal dit maak nie, dis hoekom dit vir my so ‘n groot verrassing was,” het hy in sy skik gesê.

Tydens vanjaar se kompetisie het Francois uiteindelik sy groot vis ingekatrol. “Ek het tydens die vorige jare se kompetisies drie keer groot visse verloor omdat my lyn gebreek het, maar hierdie jaar het ek dit uiteindelik reggekry om die grote in te katrol. Ek het ‘n swart pylstertvis van 106kg ingekatrol, en watter belewenis was dit nie! Ek kan nie die gevoel beskryf nie, dit is ongelooflik!” het hy verduidelik.

Die hengelaars wat lede van die SA Presidentespan is, gaan in Oktober vanjaar aan die Gus Kolner-toernooi in Hentiesbaai deelneem en Francois het vertel dat hy baie daarna uitsien. “As jy onder die top drie eindig, ontvang jy ‘n vissielapelwapen as bewys dat jy aan daardie toernooi deelgeneem het,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat, alhoewel hy nou daarop fokus om goed tydens die Oktober-toernooi te vaar, hy alreeds sy volgende mikpunt in die oog het. “Ek moet nou al hard werk om te verseker dat ek tydens volgende jaar se kampioneskappe onder die top 10 kan eindig, want dan kan ek my Springbok-kleure vir hengel kry. Dit is tog waaroor elkeen droom,” het hy vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button