Editor's choiceLocal sportSport

Jong krieketster se harde werk beloon

Johannesburg-Wes o.13-uitnodigspan toer in Sri-Lanka

 

‘n Dertienjarige krieketspeler se harde werk is beloon toe hy onlangs tot die Johannesburg-Wes o.13-uitnodigingspan verkies is. Armand Pretorius het aan die afgelope Johannesburg-Wes o.13-proewe deelgeneem – ‘n toernooi waar meer as 100 spelers van 10 laerskole regoor Suid-Afrika hul vaardighede getoon het. Na afloop van die toernooi is hy as een van die top 30-spelers aangewys, en het sodoende vir die uitnodigingspan gekwalifiseer.

““Ek was baie opgewonde toe ek gehoor het ek is een van die spelers wat Sri-Lanka toe kan gaan om daar in ‘n T20-reeks te speel,” het Armand met ‘n groot glimlag vertel. Sy pa, Pierre Pretorius, het bygevoeg dat alhoewel daar 30 spelers gekies is, slegs 10 seuns die toer meegemaak het as gevolg van die hoë kostes.

Armand Pretorius speel ‘n dryfhou. Foto’s: Adéle Bloem

“Ons het besluit dat dit ‘n geleentheid is wat mens waarskynlik net een maal in ‘n leeftyd kry, en het alles in ons vermoë gedoen om Armand te laat gaan. Jy weet nooit of hy weer so ‘n kans sal kry nie,” het Pierre vertel. Hy het bygevoeg dat hulle, as ouers, ongelooflik trots is op Armand se prestasies, en dat hy altyd op hul ondersteuning kan staatmaak.

Die uitnodigingspan het teen verskeie laerskole, kolleges en selfs klubs in Sri-Lanka gespeel en het baie goed gevaar. “Ons het ses van ons nege wedstryde gewen,” het Armand trots gesê.

Armand Pretorius laat bons die bal op die kolf om op te warm voor hy gaan kolf.

Hy het vertel dat, alhoewel hy ‘n veelsydige speler is, sy boulwerk tydens die toernooi vir hom uitgestaan het. “Ek het so gemiddeld 12 of 13 lopies in elke wedstryd aangeteken. Ek het tydens elke wedstryd paaltjies geneem, maar my beste vertoning was toe ek vier paaltjies in ons wedstryd teen die Holy Trinity Primary School geneem het. Ek het ook die wedstrydbal gekry,” het hy glimlaggend gesê.

Sy pa het die toer meegemaak, en Armand het gesê dat hulle tyd gehad het vir ‘n bietjie pret en ontspanning, ondanks die feit dat hulle twee wedstryde per dag gespeel het. “Ek het selfs op ‘n olifant gery!” het hy opgewonde vertel.

Armand het in Graad 1 aan die KFC Mini Krieketreeks deelgeneem, waarna hy besluit het om ‘n bietjie meer op rugby te konsentreer. Maar, die krieketgogga het hom weer so drie jaar gelede gebyt, en sedertdien is dit die sport waarop hy fokus. “Ek was verlede jaar in Graad 7 by Laerskool Dr Havinga, en gaan nou Graad 8 toe by Hoërskool Bastion. Ek is baie opgewonde om in die hoërskool ook krieket te speel!” het hy gesê.

Hy het afgesluit met ‘n boodskap aan elke jong krieketspeler wat graag wil presteer, “Doen net altyd jou beste en speel jou hart uit! En, as jy die geleentheid kry om oorsee te gaan, gaan, want dit is ‘n ondervinding wat jy nooit sal vergeet nie!”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button