Vergooi-kampioen berei voor vir Wêreldkampioenskappe

Vergooi-kampioen wil beter by Wêreldkampioenskappe presteer

 

Mense mag dalk dink die man wat in die veld met sy visstok staan en herhaaldelik sy lyn uitgooi en weer inkatrol, is besig om sy tyd te mors, maar eintlik is hy hard aan die oefen.

Francois Pienaar is een van hulle. Hy neem al sedert 1993 aan vergooi deel, en was al sewe keer die Suid-Afrikaanse kampioen. Hy het aan drie wêreldkampioenskappe deelgeneem, waar hy ‘n tweede plek behaal het, en ook die Suid-Afrikaanse rekord verbeter het.

Hy het vertel dat hy in 1994 aan sy eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het. “Ek is daar as die SA-kampioen gekroon, en dit was boonop die eerste keer in die sport se geskiedenis dat ‘n beginner die kampioenskap gewen het,” het hy met ‘n glimlag vertel.

Francois het die sport as volg verduidelik: “Wanneer jy aan ‘n kompetisie deelneem, kry jy vyf gooie per item, en die langste gooi tel. Na elke item word die gooie se totale bymekaar getel om die wenner vir die dag aan te wys. Ons vergooibaan lyk amper dieselfde as wat vir gewigstoot of diskus gebruik word. Gooie wat binne die afgebakende 30°-gebied land, is geldig.

Sou jou gooi buite hierdie gebied land, of jou lyn breek tydens ‘n gooi, word die gooi steeds as een van jou vyf gooie getel.”

Tydens die kompetisies is daar individuele sowel as spanitems. “Spanne bestaan uit drie lede, en hoe beter elke lid gooi, hoe beter presteer die span, so daar is altyd baie druk op jou om goed te presteer,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat prestasies by vorige kompetisies nie noodwendig saak maak nie; dit is wat jy op die dag behaal wat tel. “Jy kan tien kompetisies wen, maar as jy nie by die SA’s wen nie, beteken dit niks nie. Ek was al SA-kampioen, maar het by die volgende kompetisie heel laaste geëindig,” het Francois met ‘n groot glimlag vertel.

Die groot geheim om suksesvol te wees, is harde werk en bereidwilligheid om te oefen. “Dit is maar soos met enige ander sport – as jou kop nie reg is nie, en jy nie bereid is om te oefen nie, gaan jy nie presteer nie,” het hy gesê.

Francois het bygevoeg dat hulle oefenbane in Alberton en Pretoria het, maar wanneer hulle nie daar kan uitkom nie, oefen hulle sommer by ‘n dam of in ‘n groot, oop veld.

Hulle gaan vanjaar maandeliks aan kompetisies deelneem, asook aan die SA-kampioenskap wat vanjaar en volgende jaar in April plaasvind. “Na afloop van volgende jaar se SA’s word die nasionale span gekies wat in 2019 aan die International Federation of Fresh Water Sport Fishing (FIPS) Wêreldkampioenskap gaan deelneem,” het hy gesê.

Maar, hoekom neem hy aan hierdie sport deel? Francois het so oomblik gedink, en met ‘n groot glimlag geantwoord, “Een van die voordele van vergooi is dat dit baie help as jy gaan hengel. Dit is lekker om te weet dat, wanneer jy by die dam of see gaan visvang, jy die vermoë het om die visse wat dieper in die water is, te vang. Dit is iets waaraan ‘n gesin saam kan deelneem, en ons almal is soos een groot familie. Na ‘n kompetisie gaan ons almal na een van die ouens se huise toe, waar ons heerlik saam braai en ook ‘n klein prysuitdeling hou vir die dag se presteerders.”

Enigeen wat meer oor die sport te wete wil kom, of dalk kan help met bydraes vir die nasionale spanlede, kontak Francois by 079 183 9872.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Exit mobile version