Editor's choiceLocal sportSport

Jong skopbokser wil die beste in Suid-Afrika wees

'Dyllan is 'n kampioen in wording'

 

“Skopboks is my lewe, en ek was nog nooit spyt ek het dié sport gekies nie. Dit het my nog nooit benadeel nie.”

Dit is die woorde van die 15-jarige Dyllan Opperman, wat tans by die Honour Wrestling Association – Steve Eden Training Centre in Roodepoort oefen. Hy is deel van die Team Rage Kickboxing Klub.

Dyllan het op sesjarige ouderdom met skopboks begin, en hy het verduidelik, “My pa was nog altyd vir my ‘n inspirasie. Hy is ‘n sensei (afrigter) en ek het twee aande ‘n week saam met hom gegaan. Daar het ek besluit dat ek ook soos hy wou wees, en het begin oefen.”

Vanjaar was vir hom ‘n besonder goeie jaar, en hy het vele prestasies behaal. Tydens die Gauteng-kampioenskappe het hy ‘n silwer- en gouemedalje verower en ook sy Gauteng-kleure gekry. By die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe het hy ‘n silwermedalje verower en ook sy SA-kleure verwerf. Hy het onlangs tydens die gradering vir sy agtste Dan Junior Swartgordel gekwalifiseer, en is as Hoërskool Bastion se Junior Sportman van die Jaar aangewys.

Dyllan Opperman het ‘n baie goeie jaar agter die rug. Foto: Adéle Bloem

Dyllan glo dat jy nie oornag in ‘n goeie skopbokser verander nie en het gesê, “Jy moet toegewyd wees en bereid wees om hard te werk. Dit is nie ‘n eenjaar sport nie, ervaring kom oor ‘n lang tyd.”

Hy het vertel dat hy ook nie altyd lus het om te oefen nie, maar omdat hy weet wat hy nog wil bereik, motiveer hy homself aanhoudend. “My pa is my rolmodel, en ek wil nie net soos hy wees nie, maar beter. Daarom weet ek dat ek alles moet insit, en hard moet werk om my doel te bereik. Wenners word nie op die mat gemaak nie, maar in die oefensaal,” het Dyllan met ‘n glimlag gesê.

Sy volgende doelwit is om volgende jaar by die SA’s ‘n eerste plek te behaal, en vir die Wêreldkampioenskappe te kwalifiseer. “Ek het verlede jaar tweede by die Wêreldkampioenskappe geëindig en wil volgende jaar aan almal bewys dat ek die beste is, en kan wen,” het hy afgesluit.

Steve Eden, wat ook by Dyllan se afrigting betrokke is, het gesê dat hulle ongelooflik trots op Dyllan is. “Ons sien hom as een van ons topvegters by die klub en weet hy het ‘n blink toekoms. Hy is definitief een van ons toekomstige Springbokke en as hy aanhou om hard te oefen, kan hy wêreldkampioen word. Ons sien daarna uit dat hy, wanneer hy 18 jaar oud is, ‘n vol sensei kan word, om dan ook opgelei te kan word om een van die groot name in EFC-kringe te word,” het Steve afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button