Kruiner leef haar krieketdroom uit

Sy het by die Khosa-krieketklub in Krugersdorp aangesluit waar sy al die afgelope jaar saam met die seuns in 'n span speel.

Die klank van ‘n leerbal teen ‘n houtkolf, maak die 11-jarige Thristan Cronjé baie gelukkig.

Sy is ‘n Graad 4-leerder by Laerskool Helderkruin en is onlangs verkies tot die Gauteng o.13A-meisieskrieketspan, waarvan sy die jongste lid is.

Thristan was nog altyd baie lief vir sport – veral as daar ‘n bal betrokke is. Sy het vertel sy kan nie leer sonder een in haar hand nie. “Ek het altyd saam met my pa krieket in die tuin gespeel, dit is waar my belangstelling in die sport begin het,” het sy vertel.

Sy het by die Khosa-krieketklub in Krugersdorp aangesluit waar sy al die afgelope jaar saam met die seuns in ‘n span speel. Sy speel ook hokkie by die klub en by die skool. Volgens haar het die afrigter, Anne Cordon, haar aangeraai om aan hierdie jaar se Gauteng-Wes proewe deel te neem.

“Die afrigter het my ingeskryf om by Hoërskool Monument aan die proewe te gaan deelneem. Ek het plek gekry in die o.13 Johannesburg-span. Daarna het ek aan die Gauteng-proewe deelgeneem en is in die A-span opgeneem,” het Thristan trots gesê.

Thristan was by die skool besig om te kyk hoe haar suster hokkie oefen, toe sy die goeie nuus ontvang het. “Ek was so bly om te hoor ek het span gekry,” het sy met ‘n breë glimlag vertel. Volgens haar is sy ‘n veelsydige speler en is ewe goed met kolf- en boulwerk. “Ek is goed met altwee en kan nie regtig een kies waarvan ek meer hou nie,” het sy gesê.

Die Gauteng-meisiespan gaan tydens die Lions se krieketwedstryd op 12 November ‘n inlywingseremonie bywoon waar hulle hul Gauteng- kleure sal ontvang. Die span gaan in Desember in Durban aan ‘n provinsiale toernooi deelneem.

Ons almal weet dat krieket meer ‘n seunsport is, en dat dit soms moeilik is vir meisies om die geleentheid te kry om uit te blink. Thristan se raad aan alle meisies wat wil krieket speel is, “Moet nooit opgee nie, hou aan speel en doen net jou bes.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version