Roodies vaar puik in netbal

Uitstekende resultate by twee plaaslike toernooie.

Laerskool Roodekrans se o/13A-netbalspan is witwarm en katjies van die baan.

Volgens skoolwoordvoerder Theolene Pienaar het die span vol ywer en entoesiasme die onlangse Noordheuwel toernooi aangedurf. Daar was taai kompetisie, maar die Roodies het dit reggekry om teen Laerskole Fairland, Horison, Millenium en Muldersdrift te wen. Teen Laerskool Randfontein het hul gelykop geëindig maar moes ongelukkig ‘n wen aan Laerskool Kenmare afstaan.

“Die toernooi was uiters leersaam en die span het goeie oefening ingekry; hulle het ook verskeie kombinasies en skuiwe probeer.”

Die span het ‘n algehele tweede plek tydens die toernooi gekry.

Die span was ook slaggereed vir die latere Maragon toernooi. Die spelers het hul opponente met nuwe krag aangedurf maar moes alles uithaal en wys, het Pienaar gesê. Elke spel is tot die bitter einde toe gespeel.

“Volgens ons afrigter, Suzanne Fourie het die spelers se deursettingsvermoë hul gedra na die dag se sukses.”

Hul was oorstelp met vreugde toe hul elke wedstryd teen al vier skole — Laerskole Tygerpoort, Dagbreek, Midstream Primary en Maragon — gewen het.

“Ons bedank beide die organiseerders van die verskillende toernooie vir die geleentheid wat hulle ons gebied het, en die skool as ‘n geheel is baie trots op dié prestasie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version