Plaaslike boogskutter mik hoog

Boogskiet sowel as Sjinese gevegskuns en bergfietsry hou Prinsloo besig.

Na ‘n reeks prestasies is plaaslike boogskutter Sandra Prinsloo op pad Egipte toe.

Prinsloo is in September vanjaar gekies as lid van die Suid-Afrikaanse Recurve-boogskietspan. Die span gaan van 10 tot 13 Oktober in Luxor, Egipte, aan die Afrika-kampioenskappe deelneem.

‘n Recurve-boogskietspan ding mee in ‘n spesifieke boogstyl wat ook ‘n Olimpiese Spele-sportsoort is.

Volle Protea-kleure is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee aan Prinsloo toegeken omdat sy die enigste Suid-Afrikaanse boogskutter is wat vanjaar binne die kwalifikasietydperk van ses maande die voorgeskrewe gemiddelde telling van 630 geskiet het. Sy het in die proses ook ‘n nuwe Afrika-rekord opgestel toe sy op 70 meter ‘n totaal van 643 uit ‘n moontlike 720 geskiet het.

Prinsloo het vroeër ook verskeie ander sportprestasies behaal, waaronder verskeie Suid-Afrikaanse roeirekords. In 2005 het sy haar Protea-kleure in Sanshou (‘n vollekontak Sjinese gevegskuns) verwerf en ‘n bronsmedalje by die wêreldkampioenskappe in Hanoi, Vietnam gewen. Sy is ook ‘n veteraan-bergfietsryer. In haar eie woorde het sy “vir die lekker” vanjaar vir die eerste maal aan die bekende Warrior-reeks in Irene, Pretoria, deelgeneem. Sy was die enigste vrou wat die strafste kategorie oftewel die Black Ops Elite van dertig hindernisse oor vyftien kilometer kon voltooi.

Haar volgende mikpunt is om vir die Suid-Afrikaanse span vir die 2016 Olimpiese Spele in Brasilië te kwalifiseer.

“Ek beplan om aan verskeie internasionale byeenkomste deel te neem om daarvoor te kwalifiseer,” sê Prinsloo.

Exit mobile version