Twee voormalige Florries vir Statebondspele gekies

Van Rooyens-susters is twee van 10 SA-gimnaste by Spele.

Twee susters en oudleerlinge van Hoërskool Florida het nog twee lede van Suid-Afrika se gimnastiekspan geword wat by vanjaar se Statebondspele in Skotland in aksie sal wees. Die span bestaan uit 10 lede.

Die Van Rooyen-susters – Julene, 21, en Aimee, 18 – tesame met Bianca Mann van Visions Gymnastics is die drie atlete van Roodepoort wat gaan probeer om medaljes vir hul land by die spele in te palm.

Die susters neem aan ritmiese gimnastiek-items deel.

Volgens Morné Hanekom, woordvoerder van Florries beskou die susters hierdie geleentheid as ‘n hoogtepunt in hul loopbaan.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) het bevestig dat meer as 150 atlete Suid-Afrika by die Statebondspele gaan verteenwoordig. Dit skop af op 23 Julie en sal in Glasgow plaasvind. SA het by die vorige Statebondspele in Indië vier jaar gelede algeheel vyfde geëindig. Die span wil dié keer beter vaar.

Die Van Rooyen-susters studeer tans aan die Universiteit van Pretoria. Hulle het albei die groen en goud gedra tydens die Afrika Kampioenskappe in Botswana en goud ontvang.

In 2010 het Aimee Suid-Afrika as junior atleet tydens die eerste Jeug Olimpiese Spele in Singapoer verteenwoordig. Ousus Julene is geen vreemdeling by groot kompetisies nie en het reeds aan drie wêreldkampioenskappe deelgeneem.

Julene en Aimee het op vyfjarige ouderdom met die sport, spesifiek ritmiese gimnastiek begin.

Hul word deur hul ma Maureen van Rooyen afgerig en is lede van die Gold Reef Ritmiese Gimnastiek-klub.

Vir die volledige SA-span besoek Sascoc se amptelike webwerf by https://www.sascoc.co.za/2014/05/11/team-sa-named-for-2014-commonwealth-games/.

Aimee van Rooyen in aksie vir Suid-Afrika tydens die 12de Afrika Gimnastiekkampioenskappe in Pretoria. Foto:SASPA
Exit mobile version