Talle Havies haal Gauteng-spanne in ritmiese gimnastiek

Groep van 17 van Laerskool Dr Havinga gekies.

‘n Groot aantal dogters van Laerskool Dr Havinga (Havies) is beloon vir hul uitstaande vertoning tydens die Gauteng-proewe in ritmiese gimnastiek deur vir verskillende Gauteng-spanne gekies te word.

Volgens afrigter en onderwyser van die skool, Tanya van der Schyff het 17 dogters tussen die ouderdom van agt en 13 span gekry.

“Ons het 33 dogters ingeskryf waarvan 17 span gekry het en binnekort hul provinsie sal verteenwoordig. Dit sou 18 in totaal gewees het maar een van die dogters het ongelukkig verhuis,” sê Van der Schyff.

In die groep van 17 het ses dogters die vlak een-span en nog ses dogters die vlak twee-span gehaal terwyl vyf dogters die vlak drie-span gehaal het.

Van der Schyff sonder twee uitblinkers in die groep, Runé Etsebeth en Kayla Ferreira – albei o.9 – uit. Runé is tydens die proewe as die algehele wenner aangewys weens haar gouemedalje in die lint-item en vierde plek in die knuppelsgooi-item terwyl Kayla in die bal-item ‘n silwer en ‘n goud in die hoepel-item losgeslaan het.

“Ek is baie trots op al ons dogters. Hulle het bewys dat met baie harde werk en deursettingsvermoë jy sukses kan behaal,” voeg Van der Schyff by.

Die groep van 17 dogters sal van 27 tot 28 Junie teen opponente van meer as vyf ander provinsies in aksie wees tydens die Inter-Provinsiale Kompetisie by Wits.

“Daar lê beslis ‘n strawwe kompetisie en uitdaging voor, maar ek weet hierdie meisies het dit in hulle om te wen,” sluit Van der Schyff af.

Foto twee: Havie-dogters wat die vlak een-span (tou en vrydans) gehaal het. Agter: Tanit Hunter, Shane Venter en Dominique de Wet. Voor: Mia Hulme, Danica Maree en Cindy-Lee Axsel.
Foto een: Havie-dogters wat die vlak twee-span (bal en hoepel) gehaal het. Agter: Shannon-Lee Maree, Melissa Kleynhans, Charne Coetzee en Denise Jacobs. Voor: Shiante du Toit en Kayla Ferreira.
Foto drie: Havie-dogters wat die vlak drie-span (lint en knuppels) gehaal het. Agter: Chenique Pretorius en Micaela Beukes. Voor: Chané-Mari du Plessis, Runé Etsebeth en Amelia Grobler.
Foto drie: Havie-dogters wat die vlak drie-span (lint en knuppels) gehaal het. Agter: Chenique Pretorius en Micaela Beukes. Voor: Chane-Mari du Plessis, Rune Etsebeth en Amelia Grobler.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version