Florries sit Marais Viljoen ore aan

Eerstespan druk vyf keer vir 31-12 sege.

Dit sal oor ‘n bietjie meer as ‘n maand waarskynlik vir die soveelste keer die eersterugbyspanne van Florries en Monnas wees wat om die Goue Leeus-titel vir makroskole gaan meeding.

Florries het die afgelope naweek hul plek teen hul aartsvyand bespreek na ‘n gemaklike oorwinning van 31-12 op hul tuisveld oor Marais Viljoen. Dit was sedert 2010 die vyfde FNB Classic Clash tussen die Alberton- en die Roodepoort-skool met Florries wat nou 4-1 voorloop. Die opbou na die kragmeting was iets groot, en op wedstryddag soveel groter.

In vergelyking met verlede week het Florries goed begin en volgens hul sterkpunte gespeel deur hul glibberige agterlyn meer te gebruik. Teen halftyd was die telling 12-0 vir Florries nadat die vleuel Ralph van Vuuren twee pragdrieë gedruk het.

In die tweede helfte het Florries sy goeie spel voortgesit en nog twee keer gaan druk danksy Justin Bhana en Ashley Lindewaal. Die telbord het toe reeds 24-0 gelees.

Marais het ‘n paar minute hierna uiteindelik punte op die bord gesit toe hul flank in die hoek oorduik. Nog ‘n drie hierna het die agterstand tot slegs 12 punte verklein.

Met nog ‘n minuut of so se speeltyd oor het die Florries-senter Preston Karstens, Marais Viljoen-harte gebreek toe hy 70 meter ver langs die kantlyn afsnol om sy drie uiteindelik reg onder die pale te druk.

Wat al die ander rugbyuitslae aanbetref was drie uit die vier Florries A-spanne aan die wenkant en een het verloor.

Op die netbalbaan en hokkieveld het dit nie so goed gegaan nie. Slegs twee Florries-spanne – die eerste- en o.14 C-span –het met onderskeidelik 25-11 en 7-6 gewen terwyl die dogterseerstehokkiespan hul opponent met 3-1 kafgedraf het.

Tensy Marais Viljoen onverwags vir Monnas eerskomende naweek klop, sal dit weer die Wit Bulle van Krugersdorp teen die Rooi Masjien van Florida in die eindstryd wees. Florries speel Vrydag 6 Junie in ‘n vriendskaplike kragmeting teen Noordheuwel.

Vier eerstespan-rugbyspelers Justin Bhana, Ralton October, Preston Karstens en Ashley Lindewaal is almal in die Goue Leeus se Cravenweek-proefspan.

Sportuitslae hieronder teen Marais Viljoen (slegs A-spanne):

Rugby:

• o.14A Florida 21-0 Marais Viljoen

• o.15A Florida 5-27 Marais Viljoen

• o.16A Florida 10-5 Marais Viljoen

• 1ste Florida 31-12 Marais Viljoen

Netbal:

• o.14A Florida 13-16 Marais Viljoen

• o.15A Florida 12-19 Marais Viljoen

• o.16A Florida 4-26 Marais Viljoen

• o.17A Florida 0-25 Marais Viljoen

• 1ste Florida 25-11 Marais Viljoen

Hokkie:

• o.14 Seuns Florida 1-2 Marais Viljoen

• o.14 Dogters Florida 0-8 Marais Viljoen

• o.15 Dogters Florida 1-3 Marais Viljoen

• o.16 Dogters Florida 0-0 Marais Viljoen

• o.16 Seuns Florida 0-1 Marais Viljoen

• 1ste Seuns Florida 0-1 Marais Viljoen

• 1ste Dogters Florida 3-1 Marais Viljoen

Dirigente van Florries.
Dirigente van Marais Viljoen.
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version