School sportSport

Roodie en Florrie in SA o.20 Binnehuise Vrouekrieketspan

"Dis nie enige Jan Rap en sy maat wat vir die span gekies word nie."

Die gesig van Elana Kuys (17) sal volgende op die muur van bekende Roodies verskyn nadat sy in die Suid-Afrikaanse o.20-binnehuise vrouekrieketspan ingesluit is.

Volgens die afrigter van Hoërskool Roodepoort se dogterskrieketspan, Leon van Graan, is Elana glo die eerste dogter in die geskiedenis van Hoërskool Roodepoort om vir ‘n SA-vrouekrieketspan gekies te word.

Die veelsydige Elana wat goed kan kolf, blitsige aflewerings kan afstuur en skerp in die veld is, sal een van 10 spanlede (met die twee afrigters 12 altesaam) wees wat Suid Afrika tydens die Binnehuise Wêreldbeker Krieket-toernooi van 18 tot 25 Oktober in Wellington, Nieu-Seeland gaan verteenwoordig. Danielle Greyling, ‘n Graad 11-leerling van Hoërskool Florida is ook in die span ingesluit.

Leon sê, “Om so ‘n prestasie te behaal is uitmundend. Dit is ook nie enige Jan Rap en sy maat wat vir die span gekies word nie. Dit is vir my as afrigter ‘n voorreg om te sien hoe Elana sedert 2010 ontwikkel het.”

Volgens Leon is krieket vir dogters daardie jaar na baie jare weer by die skool aangebied. Die dogterskrieketspan van Roodies het intussen twee ligatitels ingepalm, en het reeds vanjaar die halfeindrondte gehaal.

“Elana het eers verlede jaar in binnehuise krieket begin belangstel, en kyk waar is sy vandag. Ons as dogterskrieketspan wil haar ook gelukwens. Ons is trots op haar en wens haar sterkte toe met haar krieketloopbaan,” het Leon bygevoeg.

Elana verduidelik dat sy vir die eerste keer op krieket verlief geraak het toe sy 10 jaar oud was en saam met haar nefie in die tuin gespeel het. Op laerskoolvlak het Elana selfs vir die seunskrieketspan gespeel.

“Ek geniet binnehuise krieket vreeslik want die bal is sagter en dit is meer opwindend. Oor die algemeen hou ek net van krieket; so baie dat ek selfs met my pa stry wanneer ons na krieketspanne in aksie op die TV kyk,” het Elana aan die record vertel.

Elana se groot doel is om eendag ‘n senior SA-vrouekrieketspan te verteenwoordig.

Aangesien die staat slegs fondse beskikbaar stel aan sekere hoëprofiel-sportsoorte, moet Elana haar kostes van R36 000 self dra. Haar ma Gerda het bevestig dat die span juis op 17 Mei ‘n fondsinsameling by die Barnyard (Cresta) sal hou. Kaartjies kos R160 en die tema is Born to be Wild. Leon het bygevoeg dat die dogterskrieketspan ook ‘n fondsinsameling aan die gang het. Mens moet slegs die vraag beantwoord: “In watter land word die Indoor Cricket World Cup 2014 gespeel?” en ‘n donasie van R50 gee, dan staan jy ‘n kans om ‘n pragtige houtsneë muurbehangsel te wen. Die sluitingsdatum is 23 Julie en die trekking sal op Maandag 28 Julie 2014 tydens saalopening plaasvind.

• Navrae: Gerda by 082 593 7079.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button