Latest SportSportUpdate

Poorte in almal se visier

Raiders, teen wie Poorte in 2011 laas verloor het is eerste op lys.

Met die Cell C Gemeenskapsbeker iets van die verlede, fokus Roodepoort Rugbyklub se eerstespan nou daarop om hul Pirates Groot Uitdaagreeks-titel te verdedig.

Roodepoort skop hul veldtog op Saterdag 3 Mei op eie bodem af teen Raiders – ‘n span teen wie Poorte laas in 2011 verloor het.

As die huidige Goue Leeus verdedigende kampioen, die top oopklub in die provinsie en tweede beste klub in die land het Roodepoort sy hoogste status in jare bereik. Daarom het al wat ‘n span in die Pirates Groot Uitdaagreeks vir Poorte in hul visier. Hulle sal graag vir Poorte ‘terug aarde toe’ wil bring.

As daar nou een span is wat dit kan en wil doen, is dit die manne van Industria met hul inspirerende slagspreuk van ‘Producing the future Springboks of tomorrow’.

Statistiek- en statusgewys is Roodepoort beslis die gunsteling.

Die laaste keer toe die twee spanne ontmoet het was op 6 Julie verlede jaar toe Poorte met ‘n enkele punt (25-24) as oorwinnaars uit die stryd getree het. Dit was nogal in Raiders se agterplaas en juis die sege wat Roodepoort die Goue Leeus-titel besorg het.

‘n Paar maande tevore, op Saterdag 2 Maart het Roodepoort ook geseëvier, dié keer met drie punte (27-24) danksy Steven Griffiths se dodelike skopskoen. Steven het dié dag 17 punte aangeteken.

Faris Sader in beheer van klubsake het bevestig dat Roodepoort se eerstespan aan die einde van 2011 laas teen Raiders vasgeval het. Die eindtelling was toe 19-16. Raiders het in Junie voortgebou op hul gemaklike 13-punt oorwinning oor Poorte toe hulle met 30-17 baas was.

Faris sê, “Ons besef dat elke span in vanjaar se reeks ons sal wil klop. Ons verwag niks minder as ‘n groot aanslag van ons eerste opponente en buurman, Raiders nie. ‘n Kragmeting teen hulle is en sal maar altyd mededingend wees.”

Faris het bygevoeg dat Roodepoort nie die titel en hul status op ‘n skinkbord vir hulle opponente gaan gee nie.

“Daar is ‘n ongelooflike goeie gees onder die spelers en ons wil dit so hou. Dit het die afgelope jare regtig goed met ons gegaan en ons het baie bereik. Elke speler is vasbeslote en bereid om sy alles te gee en seker te maak dat Roodepoort bo bly.”

Roodepoort se wedstryde in die Pirates Groot Uitdaag-reeks vir Mei 2014 lyk so:
• 3 Mei teen Raiders (tuis)
• 10 Mei teen Rustenburg Impala (weg)
• 17 Mei teen Alberton (tuis)
• 24 Mei teen Wits (weg)
• 30 Mei teen Pukke (tuis)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button