Havies vaar beste teen Brakpan en Vereeniging

Die o.9A-, o.10A- en o.12 A-span spog met oorwinnings.

Dit was ‘n stryd tussen drie skole, vyf ouderdomsgroepe se A- en B-spanne en ses rondtes toe Dr Havinga die afgelope naweek ‘n netbaldag op eie bodem aangebied het.

Die skole wat deelgeneem het was die gasheer Havies, Laerskool Vryheidsmonument (Vereeniging) en Laerskool Dalview (Brakpan).

Na die dag se aksie kan Havies breëbors rondloop aangesien al drie hul o.9A-, o.10A- en o.12-A-spanne aan die wenkant was. Nie een van hul B-spanne kon egter die mas opkom nie.

Vryheidsmonument was tegnies die beste presterende skool nadat hul o.11- en o.13 A-spanne geseëvier en hul B-spanne drie van die vyf afdelings gewen het.

Slegs Dalview se o.12B- en o.13B-spanne kon ‘n wedstryd wen.

Volgens Lizelle Kies van Havies is die netbaldag ‘n jaarlikse instelling.

“Die doel van die dag is om die dogters die geleentheid te bied om teen skole buite ons liga te speel en om ‘n dag van genot vir ouers en dogters daar te stel. Soos gewoonlik is die laerskole Dalview en Vryheidsmonument genooi vir ‘n dag vol netbalhoogtepunte – ‘n derde genooide skool moes op die nippertjie onttrek.

“Die skool bedank almal wat hulle ondersteun het en sien uit na hul Mini-netbal en Welpie-fees wat op Saterdag 10 Mei plaasvind. Daar word minstens 1 000 mini-deelnemers verwag.”

Drie Havie A-spanne het hul afdelings gewen tydens die mini-drienasies-reeks teen skole van Brakpan en Vereeniging.

Exit mobile version