Laerskole help rugbyskeidsregters voorberei

Minstens 40 skole se rugbyspanne in aksie op skeidsregtersevalueringsdag.

Met die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) se ligawedstryde vir laerskole om die draai is dit nie net die spelers wat hul moet voorberei nie maar beslis ook die skeidsregters.

Van 14 tot 15 Maart was minstens 40 skole se o.10A-, o.11A-, tweede- en eersterugbyspanne op Hoërskool Florida se rugbyvelde in aksie.

Volgens Riaan van der Waat van Laerskool Helderkruin was die doel nie dat die deelnemende skole ‘n trofee wen nie, maar eerder om skeidsregters ‘n geleentheid te gee om hulself te bewys en om spelers gereed te kry vir die amptelike ligaseisoen wat op 14 April begin.

“Die dag staan bekend as skeidsregtersevalueringsdag om te kyk of die nuwe skeidsregters op standaard is en vertoon soos die GLRU van hulle verwag.

“Talle skole waarvan hulle spanne onder die GLRU ressorteer, kry terselfdertyd speelkans. Dit gee afrigters die geleentheid om hul beste spelers te identifiseer en ‘n span bymekaar te sit.”

Laerskool Helderkruin se eersterugbyspan, beter bekend as die Kwaggas en verdedigende kampioen vir Groot Skole (A-liga) lyk sover sterk genoeg om hul titel te verdedig. Die Kwaggas het gedurende skeidsregtersevalueringsdag al hul wedstryde gewen. Hul veldtog in die liga begin eers op 15 April teen Ram van Randfontein.

Die volledige uitslae van die skeidsregtersevalueringsdag was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

Twee spelers veg om die bal.
Dit gaan keer kos.
Minstens 40 laerskole se rugbyspanne in vier ouderdomsgroepe was in aksie tydens skeidsregtersevalueringsdag.
“Pasop! Uit my pad uit!”
Exit mobile version