Poorte-verjaarsdagfunksie: R40 000 ingesamel

Aand van legendes is iets om te onthou.

Dit was ‘n pragtige stuk memorabilia geteken deur 407 oud-Springbokke wat die meeste aandag getrek het tydens Roodepoort Rugbyklub se 70ste bestaansjaarvieringe in Krugersdorp.

Op Saterdag 22 Februarie het minstens 160 mense die klub se Aand van Legendes-funksie in die Krugersdorpse Eeufeessaal bygewoon. Behalwe die lekker kos, bier, brandewyn en grappies was daar ‘n paar inspirerende toesprake deur voormalige Springbok- en Poorte-spelers, gevolg deur ‘n interessante veiling.

Volgens Shelvyn Alberts van Axxess Sports Media – die organiseerders van die aand – wat self ook agt jaar lank vir Poorte gespeel het, is dié aand om en by R40 000 gegenereer.

“Die geld wat ingesamel is, is ‘n bonus. Die aand het eintlik daaroor gegaan om hul bestaansjaar te vier en oudspelers te vereer. Ek het dit gedoen omdat ek nog ‘n passie vir die klub het.”

Alhoewel die meeste geld nie met die veiling gemaak is nie, was dit beslis ‘n groot hoogtepunt.

Memorabilia wat opgeveil is, sluit in foto’s van Jannie de Beer, Eben Etzebeth, ‘n aantal onvergeetlike oomblikke in rugby, ‘n rugbybal met bekendes se handtekeninge daarop in ‘n glaskas, ‘n Haai-trui in ‘n raam, ‘n trui wat in die helfte gesny is met ‘n nommer nege op die rug (een helfte van Joost van der Westhuizen se trui en die ander helfte die Britse Leeu, Gareth Edwards s’n), gholffoto’s en natuurlik daardie prag foto van ‘n Springbok met oor die 400 handtekeninge van bekende Springbokke daarop – dié outjie is vir R7 000 verkoop. Roodepoort-inwoner Leonard Dullisear was die koper.

Legendes wat dié aand vereer is, sluit in manne soos Martin Pelser (voormalige Springbok- en Poorte-losvoorspeler), Thys Lourens (voormalige Springbok- en Blou Bul-losvoorspeler), Jannie de Beer (voormalig Springbok- en Poorte-losskakel), Toy Dannhauser (lid van die ou Wes-Randklub, nou Harlequins), Pieter Hendriks (Springbok- en Poorte-vleuel), Hein Barnard (voormalige Leeus-stut), Willem Stoltz (voormalige Cats-, Leeus-, Stormers- en Poorte-slot), Thys Burger (voormalige Springbok- en Blou Bul-losvoorspeler), Gareth Hemmingway (Poorte-kaptein), Jacques van Niekerk (voormalige Leeu- en Cats-speler) asook twee wat postuum vereer is, naamlik Lee Stewart (‘n gesoute Poorte-speler wat die klub tot groot seges gelei het en in 2011 in ‘n motorongeluk gesterf het) en Eugene Powell (voormalige Poorte-agsteman en een van die min Suid-Afrikaners wat in twee Rugby League-wêreldbekers gespeel het).

Eugene is in 2002 oorlede nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.

Daar was ook ‘n emosionele oomblik toe ‘n voormalige Poorte-speler, Koos Dircksen vereer en R5 000 aan hom oorhandig is. Koos se rugbyloopbaan het op die ouderdom van 26 geëindig nadat hy sy been erg beseer het. Hy het gangreen opgedoen en altwee sy bene moes geamputeer word. Hy het intussen sy vrou verloor en moet nou die lewensstorms alleen trotseer.

Faris Sader, in beheer van klubsake by Roodepoort Rugbyklub het die aand beskryf as een om te onthou en was in sy noppies met hoe die aand verloop het.
“Ons wil graag vir die organiseerders van die funksie, Axxess Sports Media bedank vir ‘n aangename aand, en dat hulle boonop so ‘n glansfunksie binne so ‘n kort tydjie kon aanbied.”

‘n Paar ander hoogtepunte sluit in die manier waarop die seremoniemeester vir die aand en gewilde radio-omroeper van OFM, Pieter Moller, almal gemaklik laat voel het – en wie kan dan Jannie se inspirerende toesprake vergeet?

Exit mobile version