Poorte net te goed vir Noordelikes

... verloor wel tweede helfte 19-12.

Poorte se eersterugbyspan het genoeg in die eerste helfte gedoen om op Saterdag 8 Februarie op hul tuisveld met 41-19 oortuigend met Limpopo se kampioenspan, Noordelikes af te reken.

Vir die Poorte-afrigters is die sege ietwat van ‘n verligting aangesien hulle ‘n week tevore nie te goed teen Tukkies gelyk het nie en met 21-2 verloor het. Om regverdig te wees hoef hulle dié loesing teen die Varsity-kampioen rêrig nie te veel ter harte te neem nie aangesien dit weg van die huis af was, boonop volgens Varsity-reëls gespeel is en slegs een helfte geduur het. Ja, kan mens dit oorvertel – ‘n hele helfte moes afgelas word weens swaar reën en kwaai weerlig.

‘n Week later hier in Hamberg in Roodepoort was dit ‘n ander storie. Poorte het vir die eerste 20 minute goed losgetrek, gewys hoekom hy die Goue Leeus se kampioen is en vir Noordelikes ore aangesit.

Twee pragdrieë deur die vleuel Lesego Malau, een in die hoek en ‘n ander bietjie meer binne toe het die tuisspan 10-0 laat voorloop. Die volgende twee drieë, een deur die klubspeler van 2013, Nicky Cronje, asook die kaptein, Gerhard Scholtz het gekom na aanhoudende Poorte-druk en klipharde dryfbewegings. Toe kom die tweede helfte …

Hier het Poorte met hul 26-0 voorsprong toegelaat dat die span van Polokwane terugveg. In werklikheid het Poorte die tweede helfte met 19-12 verloor. Al was dit nie die einde van die wêreld nie het die Poorte-afrigter, Brian Armitage gesê wedstrydfiksheid het in die tweede helfte beslis ‘n rol gespeel.

“Ons is oor die algemeen tevrede met die uitslag en ja, daar is ‘n paar dinge om nog aan te werk,” het Brian gebieg.

“Ons het veral goed gelyk wat die lynstane en skrums aanbetref, maar het die bal op kritieke tye verloor en balbesit weggegooi wanneer ons nie moes nie, veral op die aanval. Dit is wel iets waaraan ons moet aandag gee.”

Die ander afrigter van Poorte, Jorge Carvalho het bygevoeg, “Dit was van kritieke belang dat die spelers ‘n volle 80 minute kon speel. Al was ons wedstryd teen Tukkies korter as verwag, en al was ons kragmeting teen Noordelikes slegs ons tweede opwarming vir die seisoen, voel ek ons is beter voorbereid as aan die begin van 2013. ‘n Laagtepunt vir my was dat die manne net nie die hele wedstryd kon volhou nie.”

Gereelde eerstespanspelers buite aksie teen Noordelikes was die skakelpaar, Spyker Esterhuizen (skrumskakel) en Hennie Oosthuizen (losskakel), asook die stut Jaco Vermeulen en die slot Ronnie Goodman.

Die toekenning vir die speler van die wedstryd is aan ‘n nuweling, die heelagter Chanley Williams oorhandig. Chanley het hom eers vanjaar by Poorte aangesluit nadat hy vir ‘n paar jaar by een van Poorte se gereelde teenstanders, Rustenburg Impala diens gedoen het.

Poorte se volgende en laaste opwarmingwedstryd is aanstaande Saterdag 15 Februarie teen nog ‘n kampioen, dié keer die Bulle s’n, naamlik Centurion weg van die huis af.

Puntemakers teen Noordelikes:

• Drieë: Lesego Malau (2), Juan Shaw (1), Nicky Cronje (1), Mauritz van Rooyen (1), Gerhard Scholtz (1)

• Doelskoppe: Steven Griffiths (4)

• Skepskop: Steven Griffiths (1)

 

Malau op pad na sy tweede drie.
Poorte op die aanval.
Sy eerste, maar definitief nie sy laaste drie nie: Poorte se vleuel, Lesego Malau duik oor in die hoek vir die eerste van sy twee drieë. Poorte het hul opwarmingswedstryd teen Noordelikes die afgelope Saterdag met 41-19 gewen.
Pasop, hier kom Poorte.
Exit mobile version