Florries volop in UJ Varsitybekerspan

Drie voormalige Florries in UJ Varsity-groep vir 2014.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Varsitybekerspan wemel vanjaar van Florrie-talent.

Dit nadat bevestig is dat drie voormalige eersterugbyspanspelers van Hoërskool Florida in UJ se Varsitybeker-groep van 30 ingesluit is.

Hulle is Jacques Pretorius wat ook die UJ Varsityspan sal aanvoer, Fabian Booysen wie die Jong Bokkies o.20-kampioenspan tydens die Junior Wêreldbeker in Kaapstad verteenwoordig het en Francois du Toit.

Jacques, die skrumskakel, is ‘n Florrie in murg in been. Sy skoolloopbaan het as Graad 1’tjie by Laerskool Florida begin en was tot in Graad 7 daar. In Graad 8 het hy by Hoërskool Florida ingeskryf waar hy sy matriek in 2007 voltooi het. Hy was ook hoofseun, ‘n lid van die eersterugbyspan wat in die Beeldtrofee-eindstryd gespeel het en ook die Goue Leeus se o.18 Akademiespan gehaal het.

Fabian (losvoorspeler) het as rugbyspeler al vroeg sy stem dik gemaak.

As 15-jarige het hy die Grant Khomo o.16-span gehaal en dit was glo die eerste keer in Florries se geskidenis dat ‘n 15-jarige vir ‘n ouer span in so ‘n kompeterende reeks gespeel het. As Graad 11-leerling het Fabian homself reeds in die eerstespan ingespeel. Hy was ook die kaptein. Sy harde werk het vrugte afgewerp en hy het toe twee jaar lank die Cravenweekspan, en die SA Skolespan in Graad 12 gehaal.

Florrie-bloed loop diep in Francois (haker) se are. Hy was ook van Graad 1 tot 7 in Laerskool Florida en van Graad 8 tot Matriek in Hoërskool Florida. Hy het twee jaar lank eerstespanrugby gespeel en die Goue Leeus se o.18 Cravenweekspan gehaal.

UJ se eerste kragmeting in vanjaar se reeks is eerskomende Maandag 3 Februarie teen die verdedigende kampioen Tukkies.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version