SA-skolerugbyspeler van Florries het groener weivelde gekry

HTS Louis Botha in die Vrystaat, Joseph se keuse.

Hoërskool Florida se eersterugbyspan sal in 2014 sonder hul ystervoorspeler en Sportseun van die Jaar 2013, Joseph Dweba moet klaarkom nadat hy ‘n groener weiveld gekies het.

Die veelsydige 105kg-voorspeler wat gereeld op haker en so af en toe op flank gesak het se dae by die plaaslike skool is amptelik verby en hy wei reeds aan die ander kant van die draad. Die hartseer van die hele saak is dat daar hoop vir Joseph was om in die toekoms Florries se derde Springbok ooit te word na Wahl Bartman en Elton Jantjies.

Skip Viljoen, Florries se direkteur van rugby vertel, “Joseph het self besluit om sy rugby in ‘n ander provinsie, die Vrystaat, voort te sit. Hy sal vir die Hoër Tegniese Skool (HTS) Louis Botha speel en sy matriekjaar daar voltooi.”

Alhoewel Florries se eersterugbyspan verlede jaar HTS Louis Botha in die Potchefstroom Oakdale Toer met 26-22 geklop het, dien die Vrystaatse skool die gemeenskap van Bloemfontein die afgelope 113 jaar. Groot name wat by die skool opduik is onder andere AJ Venter, Raymond Rhule en Daan Human.

“Joseph was nog by ons gekontrakteer, maar het ons besluit om hom te laat gaan ter wille van sy toekoms,” sê Skip.

Joseph wat oorspronklik van Jan Viljoen in Randfontein is, het hom as Graad 10-leerling by Florries aangesluit en het in die koshuis gebly. Hy is in sy eerste jaar in die Goue Leeus se akademiespan ingesluit en in Graad 11 het hy die Goue Leeus se o.18 Cravenweek- en SA Skolespan gehaal. Verder is Joseph ‘n goeie kortafstandatleet en het veral in die veld-item, worpe uitgeblink.

Volgens Skip kan daar verskeie redes wees waarom Joseph sy besluit gemaak het,byvoorbeeld dat, “Joseph nie vir ons in die Tuk-reeks sou speel nie omdat hy 19 jaar oud is. Leerlinge moet 18 jaar oud wees en hy sou ons net in die Beeldtrofee – wat slegs ‘n handvol wedstryde is – verteenwoordig het.

“Daar is ook rede om te glo dat ‘n unie soos die Vrystaat hom ‘n junior kontrak kon aanbied en dat die Goue Leeus hom glo nooit genader het nie.”

Gevra oor Joseph se werkverrigting in ‘n rugbyspan het Skip gesê, “Hy is ‘n fisieke speler, sterk baldraer en goeie skrummer”. Toe daar gevra is of hy ‘n groot leemte gaan los het Skip gesê, “Sy fisieke teenwoordig sal beslis gemis word maar ons het genoeg diepte en goeie spelers om ook dié rol te vervul”.

Morné Hanekom, mediavoerder van Florries het bygevoeg, “Daar is geen twyfel dat Joseph eendag groot rugby gaan speel nie”.

Exit mobile version