Latest SportSport

Rugby en krieket bestaan nie in Davidsonville nie

Sokker is die gemeenskap se eerstekeuse-sport.

Sokker is wel die nommer een sport in Davidsonville maar die gemeenskap se sportbeheerliggaam sê liefhebbers van ander sportkodes het beslis baie om na uit te sien in 2014.

Theo van Rensburg, stigter van die Davidsonville Sportontwikkelingstigting (Davidsonville Sports Development Foundation) vertel dat ‘n groot gedoente en opedag in Februarie vir die jeug beplan word.

“Die doel van die dag is om ons organisasie, die Davidsonville Sportontwikkelingstigting bekend te stel deur ‘n opedag te hou en die jeug aan ander sportsoorte as sokker bekend te stel.

“Ons gemeenskap eet en slaap sokker. Dis net sokker as jy in die strate ry maar ons het agtergekom dat daar ‘n behoefte by kinders is om by ander sportsoorte betrokke te raak sodat hulle ook in iets kan uitblink.

“Sportsoorte wat nie eers in Davidsonville bestaan nie is onder andere netbal, basketbal, swem, rugby en krieket. Ons sal

aanbiedings gebruik om die kinders te wys waaroor die sportsoorte gaan. Miskien sal ‘n ander gogga behalwe die sokkergogga dan byt.”

Theo sê verder dat nog ‘n doel van die opedag is om hoop te gee.

“Dit is ‘n geleentheid vir borge en ons as gemeenskap om ‘n verhouding te bou. Die groter prentjie van so ‘n dag is natuurlik om Davidsonville en sy omliggende gebiede se jeug by sport betrokke te kry en hulle van kattekwaad soos dwelms en misdaad weg te hou.”

Enigiemand is welkom om die dag by te woon, maar veral jong kinders en hul ouers word uitgenooi. Ander pret op die dag

sluit springkastele en gesigteverf in. Davidsonville se plaaslike skool, Roodepoort Primêr is glo ook betrokke.

Theo en sy span (kommunikasiebestuurder Aubrey Thomas en funksiekoördineerder Ruben Mathews) verwag dat meer as 1 200 mense die opedag sal bywoon.

• Navrae: Kontak Theo by 076 163 3275, of Aubrey by 071 760 5505, of Ruben by 076 762 0184.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button