Florries o.13-dogtershokkiespan 31, die res van Roodepoort 1

Wen 7 uit 7 dié seisoen, en boonop op 'n drafstap.

Daar is geen rede waarom Laerskool Florida se o.13-dogtershokkiepan nie vanjaar as die beste in die stad aangewys kan word nie.

Dit nadat die dogters teen al hulle opponente in die liga en streekkompetisie as oorwinnaars uit die stryd getree het.

Behalwe dat die dogters hul seisoen onoorwonne afsluit (7 uit 7), is die manier waarop hulle hul opponente slae gegee het juis die rede waarom die oë rek.

Bygesê, die span van Florries het altesaam 31 doele aangeteken en slegs ‘n ongelooflike een doel afgestaan.

In die liga het Florries gemaklik met Maragon Privaat Skool in Ruimsig (3-0), Laerskool Roodekrans (5-0), Laerskool Dr Havinga (2-0) en Laerskool Helderkruin (6-0) afgereken.

Die span het toe vir die uitspeelrondte van die streek gekwalifiseer en daar het hulle ook amok gemaak deur vir Laerskool Generaal De La Rey met 7-0 te vermorsel, Laerskool Horison naelskraap met 2-1 te klop en Constantia Park met 6-0 af te slag.

Talle hoërskole sal nou beslis hulle lippe aflek om die name en vanne van dié dogters op hul spanlys vir 2014 te skryf.

 

Agter: Melissa Schroeder, Michaela Panaino, Chanel van Wyngaardt en Juanique van Heerden. Middel: Rianita Kerwan (afrigter), Kyla Cloete, Jana Botes, Elrichia Benson, Clarissa le Roux en Jamie-Lee Roman. Voor: Tarryn-Lee Adams, Shani Murray, Chandri Malan en Caitlin Dorfling.
Exit mobile version