Latest SportSportUpdate

Toekoms by Poorte lyk blink danksy jong talent

A- en B-hoërskolespanne wen drie uit hul vier kragmetings.

Die toekoms by Roodepoort Rugbyklub lyk heel belowend as mens na die jong talent kyk wat deurkom.

Die klub se A- en B-hoërskolespanne, wat na afloop van die Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) aangekondig is, het onlangs in drie van hulle vier kragmetings teen ander provinsies en klubs as oorwinnaars uit die stryd getree.

Die A-span was in hul eerste kragmeting te goed vir ‘n Haai-uitnodigingspan op Ellis Park en het die Durbaniete met 54-31 vermorsel, maar het ongelukkig teen ‘n Blou Bul-uitnodigingspan op Wits Universiteit se velde vasgeval.

Die B-span het beslis ook beïndruk deur albei hul kragmetings teen ‘n Leeus- en Pirates-uitnodiginspan onderskeidelik met 41-17 en 41-22 gemaklik te wen.

Dit is ‘n ope vraag of die groep van meer as 40 spelers in die toekoms by die klub sal aansluit, maar afrigters van die o.19-, o.21- en selfs die eerstespan kan gerus die betrokke skole gaan vra dat hierdie mannetjies in ‘n Poorte-trui sal uitdraf.

Alhoewel die twee groepe meestal net uit spelers van Hoërskool Menlopark (Pretoria) bestaan het, kan die grootkoppe betrokke by Poorte se bestuur en ontwikkeling begin planne beraam. In die A-span was daar sewe spelers wat van Roodepoort-skole of sy omliggende gebiede af kom – vier van Linden, een van Bastion, een van Trinityhouse en een van Florida.

In die B-span was daar ses spelers van Bastion, twee van Bekker, drie van Linden en drie van Nic Diederichs (Krugersdorp). Gooi die plaaslike A- en B-spanspelers saam, en Poorte het beslis ‘n meneer van ‘n o.19- en o.21-span vir die toekoms, met 21 spelers om van te kies.

Een van die afrigters van die B-span, Monty Beyleveld het met die Record oor die klub se toekoms gesels en gesê dat die onlangse Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) vir die klub belangrik is.

“Dit is baie belangrik vir die outjies om aan so ‘n toernooi deel te neem. Daar word goeie rugby gespeel en dit word elke jaar groter.

“Die feit dat die klub ‘n nuwe trui vir sy spelers gekry het, gee hulle ook soveel meer om voor te speel.”

Gepraat oor die twee spanne se sukses het Monty bygevoeg, “Die uitslae maak alles net soveel duideliker en bewys dat daar talent in ons skole is.

“Hierdie seuns is almal in ‘n span saamgegooi en het in so ‘n kort tydjie die oë laat rek. Ons het byvoorbeeld slegs een oefensessie vir ons eerste kragmeting gehad en twee oefensessies vir die tweede wedstryd.

“Ons as afrigters se mikpunt was om nie ‘n spesifieke spelpatroon op hulle af te dwing nie. Hulle het geweet wat van hulle verwag word en hulle het almal hul hand opgesteek, wat ek hoop die klub sal raaksien.”

Spelers in die B-span wat vir hom uitgestaan het, is die losskakel Lee Roy Gray, die skrumskakel Liaan Perry, die haker Erran Taylor, die flank Boeta Piater, die vleuel Dean Holder, die stut Alec Heymans (almal van Bastion), die slot Haven Honnibal (Nic Diederichs), die stut Jurgens Bence (Fochville), die vleuel Brandon Lizamore (Linden) en natuurlik die ratse senter van Bekker, Henning Buitendag.

Daar is genoem dat daar moontlik na die skoolvakansie ‘n wedstryd teen ‘n span van Polokwane/ Pietersburg sal wees.

 

Die klub se A- en B-hoërskolespanne, wat na afloop van die Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) aangekondig is, het onlangs in drie van hulle vier kragmetings teen ander provinsies en klubs as oorwinnaars uit die stryd getree.
Die klub se A- en B-hoërskolespanne, wat na afloop van die Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) aangekondig is, het onlangs in drie van hulle vier kragmetings teen ander provinsies en klubs as oorwinnaars uit die stryd getree.
Henning Buitendag van Hoërskool Bekker, en senter van die B-hoërskolespan in aksie.
Henning Buitendag van Hoërskool Bekker, en senter van die B-hoërskolespan in aksie.
Bastion het sewe spelers, ses in die B- en een in die A-span gehad.
Bastion het sewe spelers, ses in die B- en een in die A-span gehad.
Een van die afrigters van die B-span, Monty Beyleveld het gesê dat die onlangse Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) vir die klub belangrik is.
Een van die afrigters van die B-span, Monty Beyleveld het gesê dat die onlangse Hoërskole-reeks (voormalige Coke-reeks) vir die klub belangrik is.
Lee Roy Gray, losskakel van die B-hoërskolespan in 'n Bastion-trui.
Lee Roy Gray, losskakel van die B-hoërskolespan in ‘n Bastion-trui.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button