School sportSportUpdate

Dis Helderkruin teen Maragon vir die o.13-kriekettitel

Onoorwonne Kruiners teen tweemalige kampioen Maragon in eindstryd.

Die twee o.13-krieketspanne van Laerskool Helderkruin en Maragon sal vanaand Woensdag 18 September koppe stamp vir die Sentraal-Wes Laerskole Krieketunie se 15/15 Aandreeks-trofee.

Albei die spanne het na die eindstryd deurgedring nadat Helderkruin in die een halfeindstryd vir Laerskool Krugersdorp-Noord met ses paaltjies getroef het en Maragon in die ander halfeindstryd met 63 lopies met Laerskool Dr Havinga afgereken het.

Maragon het eerste gekolf en ‘n reuse telling van 146 vir die verlies van slegs een paaltjie behaal.

Uitstaande kolwers was Keayne Naidoo se 70 nun (11 viere) asook Josh Hoffman se 31 nun (4 viere). George de Fouw het die enigste paaltjie vir sy Havies-span geneem en 32 lopies afgestaan. Die enigste Havies-kolwers wat iets kon regkry is Jaco Ferreira 17 (2 viere) en Luan Gorden se 13. Maragon se bouler-hemelbesem Samkeliso Nkomo het 2 paaltjies platgetrek en slegs 11 lopies afgestaan terwyl Teagan van der Merwe hom goed ondersteun het met sy 3 vir 1.

Helderkruin moes ‘n bietjie harder werk vir hul sege oor Krugersdorp-Noord. Die Krugersdorp-span het in hul 15 boulbeurte ‘n telling van 99 vir die verlies van nege paaltjies aangeteken, met Helderkruin wat die teiken van 100 kon behaal met vier paaltjies plat.

Johan Mulder se 45 lopies (3 viere en 5 sesse) van slegs 12 balle het beslis die verskil in die kragmeting gemaak en het vir Kruiners die grondslag gelê. Hy is goed ondersteun deur Tristan Dullisear se 15 nun (2 viere). Tiaan Niemandt met sy 20 vir 2 en Marcelle Hensley met 14 vir 1 was die beste boulers vir Krugersdorp-Noord op die dag terwyl Jeandre Swanepoel met sy 35 (4 viere en 2 sesse) hard met kolf probeer het.

Vir Maragon sal vanaand se eindstryd ‘n taai een wees aangesien Helderkruin as die gunsteling beskou word. Kruiners is nog onoorwonne. Maragon het die beker al twee keer omhoog gehou en is verlede jaar se Plaat-wenners terwyl Helderkruin, wat die reeks laas in 2007 gewen het, graag sake op hul tuisveld wil regstel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button