Poorte Hoërskole-span te goed vir Durbaniete in Leeukuil

Klop Haai-uitnodigingspan 54-31 op Ellis Park.

‘n Onervare en vinnig saamgestelde Roodepoort Rugbyklub Hoërskole A-span het te veel skietgoed gehad en ‘n Haai-uitnodigingspan op Vrydag 30 Augustus op Ellis Park met 54-31 vermorsel.

Alhoewel die groep van 22 gewoond is om vir hulle onderskeie skoolspanne uit te draf, het dié Hoërskolespan van Roodepoort, bekend as die A-span voor die kragmeting teen die Durbaniete slegs een oefensessie saam agter die blad gehad om voor te berei, en steeds beïndruk.

Hulle het agt drieë teen die Durbaniete se vyf gedruk en teen halftyd reeds met 35-7 voorgeloop. Die Haai-uitnodigingspan het wel in die tweede helfte goed teruggeveg, maar die skade was te groot.

Spelers wat rêrig kop en skouers uitgestaan het was die agsteman Ruan du Toit (Bastion), losskakel Kyle Leus (Linden), heelagter Morné vd Berg (Linden), die senter Ruan de Beer (Menlopark), skrumskakel Stiaan Pienaar (Menlopark), flank en kaptein Justin Meintjies (Menlopark), agsteman en vaskopstut Ruan Goosen (Menlopark).

En wat is ‘n goeie span sonder sy goeie afrigters, Lawrence Herselman en Jaco Booysen.

Met min tyd tot hul beskikking moes die afrigters ‘n span aanmekaarslaan met die hoop dat hul kompeterend sou wees. Daar is egter geen twyfel nie dat die manne in hulle doel geslaag het.

Afrigter Lawrence het na die wedstryd gesê, “Ons is baie tevrede en trots op die spelers wat so ‘n oorwinning kon behaal, veral as jy die kort tydperk in ag neem waarbinne ons ‘n wedstrydplan aanmekaar moes sit.

“Ons opponente was effens groter en sterker as ons maar ons voorspelers was glad nie te sleg nie’ hulle het hul man gestaan. Die verskil was die agterlyn. Op ‘n veld soos Ellis Park moet jy die spasie gebruik en dit kon ons agterspelers doen. Daar was gate en ons het die geleenthede gebruik.”

Toe hy uitgevra is oor die Durbaniete se dapper terugvegpoging toe die telbord 35-21 gelees het, het Lawrence gesê, “Die manne is nog jonk en het te gemaklik geraak. Elkeen wou self ‘n drie gaan druk en dit is nie hoe dit werk nie.”

Roodepoort pak eerskomende Saterdag 7 September ‘n Blou Bul-uitnodigingspan by Wits Universiteit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version