Rugby red renosters

Sewesrugbytoernooi veg teen renosterstropery.

Rugby in sewesformaat het renosterstropery se nuutste vyand geword.

Met die afskop van die Merensky sewestoernooi vroeg in Augustus is rugbyspanne uitgenooi met die doel om fondse in te samel vir die Veldwagtersvereninging om hulle te help om meer effektief op te tree in hul poging om renosterstropery te hokslaan.

Maar wat het sewesrugby met renosters te doen? Gerhard du Toit, organiseerder van die toernooi verduidelik, “Skole word uitgenooi om deel te word van hierdie wonderlike inisiatief wat die skool kan bevoordeel en in dieselfde asem renosterstropery in Suid-Afrika te help hokslaan.

“Hoërskool Merensky bied vyf toernooie aan waarvan elke toernooi sestien senior spanne kan akkommodeer. Die datums van die vyf toernooie is 2 tot 3 Augustus, 9 tot 10 Augustus, 16 tot 17 Augustus, 23 tot 24 Augustus en 5 tot 6 Oktober.”

Hoërskool Florida is een van die spanne wat uitgenooi is.

Morne Hanekom, woordvoerder van Florries het bevestig, “‘n Groep van 12 spelers vertrek Vrydag 23 Augustus Tzaneen toe. Hul eerste kragmeting is teen Hoërskool Middelburg.”

Du Toit sê verder, “Tydens elke toernooi sal die twee spanne, wat in die Rhino-beker eindstryd speel, outomaties kwalifiseer vir die Groot Vyf-eindstryd. Ses spanne sal ook ‘n “wild card” ontvang om deel te wees van die eindstryd. Die eindstryd gaan op 18 en 19 Oktober in die Skukuza-kamp van die Krugerwildtuin plaasvind.

“Dit sal die eerste in geskiedenis wees dat ‘n sewestoernooi in die Krugerwildtuin aangebied en gespeel word,” het du Toit bygevoeg.

“Daar is reeds met die Kruger Wildtuin bevestig om hierdie toernooi vir die volgende vyf jaar op Skukuza aan te bied. Daar is ‘n groot behoefte in Suid-Afrika om mense meer van renosterstroperybewus te maak. Skole kan ‘n groot bydrae lewer met hierdie projek, en ons wil sewes gebruik om daarmee te help.

“Ander skole sal ook van 2014 af genader word om die uitdun-toernooie daar aan te bied. Ons wil skole reg oor die land betrek. Elke skool wat deel word van hierdie projek sal ‘n voorlegging ontvang van die Veldwagtersvereninging.

“Hierdie voorlegging sal in die vorm van ‘n skyfievertoning wees wat skole dan vir hulle leerlinge kan voorlê. Die voorlegging sal honderd persent konsentreer op die bewusmaking van renosterstropery.”

Hoe gaan jou skool baatvind by die toernooi?

• Beeld gaan verskeie advertensies plaas.

• Radio Jakaranda gaan die naweek van 18 en 19 Oktober op Skukuza wees en regstreeks uitsaai.

• SuperSport gaan ook die toernooie afneem en uitsaai.

Du Toit se dat daar ook groot pryse gewen kan word byvoorbeeld die wenspan gaan ‘n gratis week ontvang by die Reef Resort in Xhai-Xhai, Mosambiek. Die prys sluit akkommodasie vir 12 spelers, twee afrigters en ‘n busdrywer in. Alle spelers sal ook gratis T-hemde en waterbottels ontvang, en verskeie ander pryse sal uitgedeel word.

Verdere reëlings om van kennis te neem:

• Vir die naweek van 18 en 19 Oktober is daar reeds ‘n blokbespreking gedoen by die wildtuin, wat meebring dat ouers en ondersteuners ook die unieke geleentheid kan bywoon. Die spelers kry spesiale pryse vir akkommodasie vir die Vrydag en Saterdagaand.

• Skole wat aan die toernooi gaan deelneem sal ongetwyfel wye mediadekking asook blootstelling ontvang.

• Die koste van die toernooi is as volg: ‘n Eenmalige fooi van R2 000 per span word gevra. Dit sluit in toernooifooie, koshuisakkomodasie vir die Vrydagaand te Merensky, asook ontbyt die Saterdagoggend van die toernooi.

• Indien ‘n span kwalifiseer vir die eindstryd in Skukuza, is geen verdere toernooifooie betaalbaar nie. Spelers en beamptes sal slegs hulle eie akkommodasie en etes moet betaal by Skukuza. Soos reeds genoem is daar onderhandel vir spesiale pryse wat ook reeds goedgekeur is deur die Wildtuin.

• Hierdie inisiatief is nie ‘n winsgewende aksie nie. Die doel van hierdie projek is om beskikbare fondse (toernooifooie, borgskappe ens) te skenk aan die Veldwagtersvereninging.

Exit mobile version