Die Bekker-trekker ploeg voort

Bekker sluit groep onoorwonne af met sege oor Roodies.

Die Bekker-trekker is steeds goed geolie en het voortgeploeg na ‘n oortuigende oorwinning van 37-8 oor Roodies op dag nege van die Hoërskole-reeks op Maandag-aand 12 Augustus.

Die mielieboertjies van Magaliesburg het beslis beter rugby as hul opponent van hier langs die polisiestasie op die aand gespeel. Bekker het sodoende Groep D van Afdeling B onoorwonne afgesluit wat seges van 13-5 oor Alberton en 42-0 oor President insluit.

Bekker se agterlyn was weereens kookwater teen Roodies – dit sowel as ‘n paar briljante oomblikke van ‘n paar spelers soos senter Henning Buitendag en die kort rooikop haker Johan Botha (met die bynaam Vlam) het Roodies seergemaak.

Hopeloos te veel geskoppery in ‘n reeks (wat van die Varsitybeker-puntestelsel gebruik maak met die doel om drieë te druk) en die feit dat Roodies die bal te veel in kontaksituasies verloor het is waarom die telbord teen lemoentyd 21-0 gelees het.

Dit is ‘n groot bekommernis dat spelers mekaar reeds op dié vlak wil intimideer en eerder die man wil speel as die spel soos in ‘n paar gevalle met Roodies. Waar’s die genot in die spel manne? Doen jul eie haka, sing die skoollied en maak soos Bakkies – lag eerder daaroor as wat jy probeer ‘n Rocky Marciano op jouself trek. Speel rugby … soos Bekker.

Roodies het ook gewys dat hulle nie gaan gaan lê nie en het vroeg in die tweede helfte uit hul eie halfgebied ‘n kraak in Bekker se verdediging gevind wat tot ‘n swaeltjie drie onder die pale gelei het – toe moes jy die skare hoor. Alhoewel Roodies vir Bekker tot net twee drieë beperk het, later in die tweede helfte, het Bekker te veel gedoen om Roodies in die wedstryd terug te bring. ‘n Afdeling B-titel is ook glad nie buite die vermoë van Bekker vanjaar nie.

Bekker sal moontlik óf teen HTS Elspark óf Trinity House te staan kom in die uitspeelrondte op Vrydag 16 Augustus. Roodies, wat met slegs een oorwinning in die groep van 18-16 oor President gespog het, sal waarskynlik vir Bastion (Groep B se naaswenners) ook op die dag moet pak.

In ‘n ander Afdeling B kragmeting het Krugersdorp High vir HTS Nic Diederichs gewys waar Dawid die wortels gegrawe het deur hul Krugersdorp-eweknie met 23-13 te klop.

Ander uitslae op die dag:

Maandag 12 Augustus:

• Fourways 41-5 President XV

• Randpark High 40-0 Kagiso

• Bastion 10-8 Trinity

• HTS Nic Diederichs 13-20 Krugersdorp High

• Bryanston 21-16 Bastion XV

• Riebeeckrand 23-10 AH Sasolburg

• Linden 55-10 Noordheuwel XV

• Bekker 37-8 Roodepoort

Bepalings vir Woensdag 14 Augustus (Slegs Afdeling C uitspeelrondtes):

• Alberton High teen Fourways

• Potch Volkies o.15 teen Bekker o.15

• Fochville teen Kagiso

• Bastion XV teen HTS Nic Diederichs

• Krugersdorp teen Vorentoe

• Elspark XV teen Primrose

• HTS Elspark teen Trinity

• Allen Glen teen Bryanston

• Alberton teen President

• Queens High teen Bracken High

• Riebeeckrand teen Menlopark XV

• Bastion teen Linden

Florida XV 0-13 HTS Carel de Wet.
Allen Glen 16-15 Krugersdorp High.

Menlopark weer op die aanval.

Florries het uiteindelik hul voete in die Roodepoort Rugbyklub se Hoërskole-reeks gevind na ‘n spog oorwinning van 42-10 oor Potch Volkskool op dag ses.

Exit mobile version