Caitlin Oelofse – ‘n dogter met vele talente

Laerskool Florida-leerling blink uit op sport- en kultuurgebied.

“Sy hou my baie besig.”

So sê Ethne Oelofse, die ma Graad 6-dogter Caitlin van Laerskool Florida nadat sy weer op sport- en kultuurgebied presteer het.

Caitlin is Saterdag 3 Augustus in die Gauteng Skole Skut Unie-span (GSSU) ingesluit en het boonop haar Goue Leeus-kleure verwerf. Sy sal in September aan die SA Kampioenskappe deelneem.

Sy het ook op Saterdag 8 Junie aan die Gauteng GSSU 3P Skyfskietliga deelgeneem waar sy in die o.14-afdeling vir Laerskoolskuts met ‘n spog telling van 442/600 die gouemedalje verower het . Op Saterdag 27 Julie behaal Caitlin nog ‘n gouemedalje in die o.14-afdeling vir Laerskoolskuts in die GSSU 10M Skyfskietliga danksy ‘n uitstekende telling van 287/400.

Op kultuurgebied het Caitlin ook geskitter nadat sy aan Hoërskool Florida se Musiek Eisteddfod deelgeneem het en daar met ses trofeë weggestap het.

Sy het drie klavieritems gelewer, naamlik klassiek (Prelude), populêr (My Heart will go on uit Titanic) en ‘n duet saam met haar onderwyser, Erasie Olivier (met Beauty and the Beast uit Walt Disney se Beauty and the Beast) waar sy twee A+ en ‘n A verower het.

Sy het ook drie sangitems gelewer, naamlik klassiek (Cuckoo deur Martin Shaw), populêr (Jack in the Box uit die 70’s deur David Myers en John Worsley) en Amerikaanse musiek (Castle on a Cloud uit die rolprent Les Miserables deur Herbert Kretzmer) waar sy drie A’s verwerf het.

Die skool, sy onderwysers, leerlinge en familie is almal baie trots op Caitlin en haar toekoms lyk blink.

Exit mobile version